Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Crusaders kap: Vee voor jou eie deur, Swys!

Gaaf, Swys, maar wat van Ruan Dreyer, die vaskopstut wat die meeste gestraf word in Superrugby?

Ruan Dreyer, die Leeus se vaskopstut, het in die spervuur beland met die woordeoorlog wat daar voor die Superrugby-eindstryd tussen die Crusaders en die Leeus woed. Foto: Gallo Images

Dít is die reaksie uit die Crusader-kamp nadat Swys de Bruin, die Leeus se afrigter, vroeër die week aangevoer het die span van Christchurch “kom met baie weg” in die skrums.

Die sielkundige oorlogvoering word in die opbou tot die Superrugby-eindstryd Saterdag in Christchurch tussen die Leeus en die Crusaders deur albei spanne op die spits gedryf.

De Bruin het die eerste sarsie mondskote gevuur en het daarop gesinspeel dat Joe Moody, All Black-loskopstut van die Crusaders, onwettige truuks in die skrums uitvoer.

Jason Ryan, hulpafrigter van die Crusaders, het Vrydag vir Moody in die bres getree.

“Ek het dit al voorheen gehoor en dit is gewoonlik wanneer Joe Moody se naam ter sprake kom. Dit is omdat hy die beste ter wêreld is. Al wat ek weet, is dat wanneer Joe op sy beste is, daar nie baie vaskopstutte is wat hom kan onderkry nie.

“Maar dit gaan oor meer as net Joe. Ons het vertroue in ons agttal wat as ’n eenheid kan skrum.”

Ryan het die fokus na die besoekers se skrum verskuif deur daarop te wys dat Moody se direkte teenstander, Dreyer, die vaskopstut is wat tot dusver die meeste strafskoppe in die reeks afgestaan het.

“Ons kom te staan teen ’n vaskop wat die afgelope twee jaar die meeste in Superrugby gestraf is.

“Ons het ’n plan en weet wat ons wil doen. Die plan is om ’n goeie regterskouer te kry en in die eerste kanaal te speel. Kry die bal dan by die agterspelers. Dit is wat ons nog die hele jaar doen.”

Die Leeus het vanjaar talle spanne verniel met hul dodelike lynstaanrolmale. Hier is die stut Jacques van Rooyen op pad doellyn toe vroeër die seisoen teen die Bulle. Foto: Gallo Images

Die Crusaders se pak, met ander ervare All Blacks soos die kaptein, Sam Whitelock, Kieran Read en Owen Franks in sy geledere, het die grondslag vir die span gelê om tot ’n 13de eindstryd deur te dring.

Hoewel die tuisspan die oorweldigende gunsteling is, het Ryan gemaan hulle gaan op hul beste moet wees teen die Leeus se indrukwekkende agttal.

Die Leeus is so dodelik klinies met hulle lynstaanrolmale dat die Bok-haker Malcolm Marx dié seisoen al 11 keer gaan druk het.

Ryan sê hulle het die afgelope week baie tyd daaraan bestee om ’n teenvoeter in dié afdeling te kry.

“Dit is ooglopend dat dít hul sterkpunt is. Dit is hulle plan A, plan B en soms plan C ook.”

* Scott Robertson, die Crusaders se hoofafrigter, het intussen gesê hy is meer as tevrede om nog lank in dié rol aan te bly.

Dié briekdans-breier, wat ook ’n groot voorliefde vir branderplankry het, word in Nieu-Seelandse rugbykringe as ’n toekomstige All Black-afrigter beskou. Daar word selfs voorspel dat hy ná volgende jaar se Wêreldbeker-toernooi die leisels by Steve Hansen kan oorneem.

Die 43-jarige voormalige losvoorspeler het egter aangedui hy is gretig om by die Crusaders aan te bly wanneer sy kontrak hernieu moet word.

“Ek wou nog altyd hier gebly het. Ek is mal oor die plek.

“Daar sal aan die einde van die seisoen ’n hersiening wees en ons sal om die tafel gaan sit en oor die pad vorentoe praat. Hopelik sal hulle (die Crusaders se rugbybase) my nog lank hier wil hou,” het Robertson aan The New Zealand Herald gesê. – Reuters

Meer oor:  Christchurch  |  Leeus  |  Superrugby-Eindstryd  |  Crusaders  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.