Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Kiwi's se fort ondeurdring-baar?

Die Leeus se rugbyspan gaan in Saterdag se Superrugby-eindstryd probeer om ’n besondere mondigwording van die Crusaders te bederf.

Sam Whitelock (kaptein) en sy Crusader-spanmaats is die oorweldigende gunstelinge om die Super-trofee Saterdag omhoog te hou. Foto: Getty Images

Klop die tuisspan die Leeus en behou hul titel as Super-kampioen, sal dit die 21ste keer wees dat hulle ’n uitspeelstryd op hul tuisveld wen sedert die begin van die moderne Super-reeks in 1996.

Hulle spog met die uitsonderlike rekord dat hulle tot dusver ál 20 wedstryde wat hulle in die uitklopfase van die reeks tuis gespeel het, gewen het en nog nooit aan die verloorkant was in hul eie agterplaas nie.

In vanjaar se toernooi is ál ses wedstryde in die kwarteind- en halfeindstryde ook deur die tuisspan gewen en dui alles op ’n Crusaders-sege.

Trouens, geen span kon al nader as sewe punte daaraan kom om die Crusaders daar in ’n uitspeelstryd te klop nie en hierdie stukkie statistiek onderstreep hul oorheersing by die huis.

Word hul merkwaardige rekord nog meer onder die vergrootglas geneem, word dit al hoe duidelik watter enorme taak op die Leeus wag om vriend en vyand te verras en met die Supertrofee op die vliegtuig terug te keer Johannesburg toe.

Die Crusaders het sedert 1996 ál vier hul eindstryde in Christchurch gewen. Hierdie eindstryd is die eerste een sedert 2008 wat daar gespeel word.

Nog net drie Suid-Afrikaanse spanne kon sedert die begin van Superrugby daarin slag om die Crusaders in Nieu-Seeland te klop. Dit strek oor 54 wedstryde.

Noord-Transvaal (voor dié span as die Bulle begin speel het) het dit in 1996 die eerste keer reggekry.

Die Cats, ’n gekombineerde span van die Leeus en die Vrystaat, het dit toe in 2001 in Nelson vermag, met die Haaie in 2014 wat die enigste ander Suid-Afrikaanse span was wat die Crusaders in Kiwiland kon klop.

Dít was boonop nadat die Durbaniete vir die grootste deel van die wedstryd met 14 spelers moes klaarkom nadat Jean Deysel met ’n rooikaart gestraf is.

Die Crusaders het in 2016 laas ’n tuis-Superkragmeting verloor en is onoorwonne in hul laaste 19 wedstryde by die huis.

Die Leeus, wat uiteraard nog nooit in Christchurch kon wen nie, het sedert 2010 nog net twee keer daar gespeel. Aan die een kant kan dit gesien word dat hulle dus nie juis enige ervaring het om daar te speel nie, maar aan die ander kant kan dit ook ’n stukkie goeie nuus wees omdat die huidige spelers nie die sielkundige en emosionele letsels het van talle nederlae daar nie.

Of is dit nou maar bloot net na strooihalms gryp om daardie stukkie lig in die donker tonnel te wil raaksien?

Meer oor:  Leeus  |  Superrugby-Eindstryd  |  Crusaders
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.