Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Damian gaan dalk mosie van vertroue kry
Damian Willemse gaan dalk ’n mosie van vertroue kry wanneer die Stormers se span vir Saterdag se Superrugby-wedstryd teen die Blues aangekondig word. Foto: Jaco Marias

Damian Willemse gaan ’n mosie van vertroue by die Stormers se afrigtingspan kry eerder as om gepos te word vir Saterdag se Superrugby-wedstryd teen die Blues op Nuweland.

Dít blyk uit ’n uitlating Maandag deur Dawie Snyman, die Stormers se agterlynafrigter, dat hulle samespel wil bevorder deur kombinasies te vestig.

“Ons wil aan kombinasies werk, so hoe meer Herschel (Jantjies) en Damian saam kan speel (as skakelpaar), hoe beter sal dit vir die pad vorentoe wees,” het Snyman by die Westelike Provinsie se Sentrum vir Uitnemendheid in Bellville gesê.

Ons wil aan kombinasies werk, so hoe meer Herschel (Jantjies) en Damian saam kan speel (as skakelpaar), hoe beter sal dit vir die pad vorentoe wees.
Dawie Snyman

“Ons gaan by ’n punt kom waar ons slim moet wees oor hoe ons die groep gebruik en ouens nie uitput nie, maar die fokus is nou om ons sterkste moontlike span Saterdag op die veld te kry en te wen. Tuiswedstryde, veral dié in jou groep, is baie belangrik.”

Willemse het tot nou ’n reeks onseker vertonings in die Stormers se nr.10-trui gelewer en die druk raak al hoe groter om vir Jean-Luc du Plessis as generaal te gebruik.

Die Stormers poog Saterdag teen die Blues om dit vyf oorwinnings op ’n streep te maak voordat hulle ’n loslootjie gaan hê. John Dobson, die Kapenaars se afrigter, kan dalk daarna sy opsies oorweeg.

Tot dusver is dit moeilik om peil te trek op die Blues. Hulle het agterosspanne soos die Waratahs en Bulle in wegwedstryde geklop, maar op Edenpark teen die Chiefs en Crusaders verloor.

Dawie Snyman meen Herschel Jantjies en Damian Willemse kan blom as ’n skakelpaar indien hulle dikwels as ’n kombinasie gekies word.Foto: Gallo Images

Snyman meen egter hulle is ’n ander dierasie as die dikwels ongestruktureerde span van die afgelope paar seisoene.

“Jy kan sien dat die Blues baie aan hul vaste fasette gewerk het. Hulle het een van die beste skrums in Nieu-Seeland en hul taktiese skopwerk het sedert verlede jaar ook verander.

Verlede jaar was hulle instinktief. Nou is daar ’n besliste plan van hoe hulle wil skop om jou onder druk te plaas,” sê hy.

“Hulle is goed georganiseer op die verdediging en aanval. Hulle is redelik gestruktureerd, maar poog ook om vir hul snellers ruimte te skep.”

Die Blues gaan nog sonder hul groot losskakel-aanwins, Beauden Barrett, moet regkom. Hy is met sabbatsverlof en gaan na verwagting terugkeer vir die wedstryd teen die Hurricanes in Auckland op 11 April.

Otere Black was die afgelope naweek teen die Bulle ’n waardige draer van die Blues se nr.10-trui.

Hy was veral effektief op die aanval en het ook onder druk kop gehou vir die wenskop.

*Terwyl die Stormers vol knoppe en kneusplekke is ná hul oorwinning met 17-7 oor die Jaguares, is daar nie nuwe beserings wat spelers langs die kantlyn gaan dwing nie.

Meer oor:  Damian Willemse  |  Herschel Jantjies  |  Kaapstad  |  Stormers  |  Superrugby  |  Springbok  |  Losskakel  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.