Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Die twee gesigte van Malcolm Marx

Dis ’n gesig wat elke Springbok-ondersteuner en elke teenstander wat al ooit ’n aanstormende Malcolm Marx moes keer, goed ken.

Daai frons tussen die oë, die doodkyk-blik, tande knersend terwyl hy regmaak om alles voor hom weg te vee . . . dit spel Befoeterde Bok, eerder as Almal se Pêl.

Kyk daai glimlag! Malcolm Marx erken dat hy nie gereeld op die rugbyveld glimlag nie, maar weg daarvan is dit ’n ander storie. Foto: Lions Rugby Company

Maar eintlik, skerm die nuwe Leeu-kaptein vandeesweek, is dit net sy rugby-gesig. Daar is eintlik twee Malcolms, sê hy: die Kwaai Kalant van die rugbyveld, en die Joker van Johannesburg weg daarvan.

“Ek is eintlik ’n nar,” glimlag hy Dinsdag, voor ’n wysneus-spanmaat hier van links laat hoor: “Hy’s eintlik ’n grap!” Dit laat ’n glimlag wat die rugbypubliek maar min sien, oor sy gesig versprei.

Enigiemand wat die laaste paar jaar opgelet het, weet natuurlik dié jong reus is nie ’n nar of ’n grap op die rugbyveld nie. En dis nes Malcolm Marx dit wil hê ook – dis waarvoor hy wérk.

“Ek kom beslis nie ’n sin vir humor kort nie, jy kan enige van hierdie ouens vra hoe ek is van die veld af,” sê Marx met ’n boogarm in die rigting van sy spanmaats. “Ek hou daarvan om rustig te wees saam met my vriende en gesin, soms op die Vaalrivier op ’n waterponie rond te jaag en Woensdae ’n potjie gholf saam met van die ouens in te werk.

Jy kan seker sê daar is twee Malcolms, maar nie op dieselfde tyd nie.

“Maar op die veld is dit anders, want dan het ons werk om te doen. Ons kan ná die tyd lag en laf wees en lekker jol, maar wanneer ons rugby speel moet ons daarop fokus, nie op hoeveel ons lag nie.

“Dis maar soos enigiemand anders: jy’s ernstig by die werk en minder so weg daarvan. Jy kan seker sê daar is twee Malcolms, maar nie op dieselfde tyd nie.”

Moet nietemin nie die Marx-situasie met ’n Jekyll & Hyde-scenario verwar nie. Van die veld af laat rugby ook sy hart bons.

En op die veld is dit wat hom Malcolm maak – sy gesin, sy strewe na nederigheid – steeds daar.

En áltyd, sê hy, probeer hy ander voor homself plaas.

“Ek het al te veel gesien hoe ouens arrogant is en dan werk dit nie vir hulle uit nie. My ma het my nie grootgemaak om arrogant te wees nie, sy het my geleer om almal te respekteer, of dit die ou is wat die gras sny of die afrigter, en nie te dink ek of enigiemand is beter as ’n ander ou nie.

“In my eie lewe besef ek goed ek sou nêrens gewees het sonder die mense om my nie. Of dit nou my ma en my broer, of my meisie of afrigters en spelers is, daar was hope mense wat my gemaak het wie ek vandag is.”

Elke tatoeërmerk op sy regterarm het ’n doel, sê Marx. Foto: Gallo Images

Uit ’n gesprek met die Springbok-haker raak dit gou duidelik wie sy grootste inspirasie is: sy ma, Bernadine.

Sy het Malcolm en sy ouboet, Jean, alleen grootgemaak, twéé keer borskanker oorwin “en is steeds meer geïnteresseerd in wat in ons lewens aangaan as in haar eie”.

“Haar invloed op die mens wat ek is, is massief,” sê haar jongste. “My ma het my die dinge geleer wat ek vandag weet, hoe om mense te behandel, hoekom jy moet nederig bly, dat jy elke mens moet raaksien en probeer help.

“Die mens wat sy is, daardie mens is wie ek ook graag wil wees. Sy is ongelooflik.”

Sy gesin is álles vir dié rugbybreker. Die tatoeërmerke op sy regterarm spel dit ook uit. Die tydperk tussen 2001 en 2002 toe sy ma die eerste keer borskanker gehad het, is daar verewig, saam met rose die tweede keer toe sy dit oorwin het, drie jaar gelede, en ’n duif vir sy broer.

Hera, die godin van vroue, huwelike en familie rus net bo sy hand. En bo haar is ook simbole van die waardes wat hy probeer uitleef: ’n kompas om rigting voor te stel, ’n horlosie wat hom herinner om sy tyd goed te benut, ’n uil vir wysheid en die Afrika-vasteland, vir waar hy vandaan kom.

Dis by Bernadine, Jean en Kirsten, sy meisie van die afgelope nege jaar, wat Marx gaan aanklop wanneer hy wil wegkom van die geraas wat ’n lewe in die rugby-kollig soms insluit.

Ek sê altyd, niemand gaan op die veld om ’n ondergemiddelde vertoning te lewer en sleg te lyk nie, jy doen jou bes.

Op 24 het hy al baie te doen gehad met die sonkant van rugby – hy was SA Rugby se Speler van die Jaar vir 2017, is verlede jaar benoem vir Wêreldrugby se Speler van die Jaar-toekenning, het al uit die Curriebeker gedrink, met die All Blacks afgereken en in drie Superrugby-eindstryde gespeel.

Maar hy ken ook die donker kant. Die dae wanneer hy wéét hy moes beter gedoen het, wanneer die een lynstaanbal ná die ander in die ander span se hande beland of hy met bottervingers speel, word die snedigheid van Jan Publiek hom nie gespaar nie.

Marx die rugbyspeler: gefokus en ernstig. Foto: Gallo Images

“Ek bly sulke tye heeltemal weg van sosiale media, want dit kan nogal lelik raak,” sê. “Dis die loopbaan wat ek vir myself gekies het, so ek moet daarmee vrede maak, maar ek sê altyd, niemand gaan op die veld om ’n ondergemiddelde vertoning te lewer en sleg te lyk nie, jy doen jou bes.

“Daar was ’n tyd wat dit vir my moeilik was om met sulke kritiek saam te leef, maar nou het ek geleer om myself te omring van mense wat steeds in my glo en my kan herinner dat een slegte wedstryd my nie definieer nie.

“Ek beskou dit nou as konstruktiewe kritiek, iemand het iets raakgesien waaraan ek moet werk. En dan gaan werk ek daaraan, want die een ding wat ek vrees, is selfvoldaanheid en oorgerustheid,” sê hy.

Dis ook waarom hy nie dink sy naam moet al in viltpen op die Springbokke se spanlys vir vanjaar se Wêreldbeker-toernooi ingeskryf word nie.

“Wat ek in vorige jare gedoen het, beteken hierdie jaar niks. Ek moet my plek nou weer van voor af verdien. Dis ’n massiewe voorreg om na ’n Wêreldbeker toe te gaan, so jy moet dit verdien, jy moet kwaliteitrugby speel om te wys jy is dit waardig. As ek nie hierdie jaar goed genoeg speel nie, moenie my kies nie, want ek gaan nie vir jou gee wat jy nodig het nie,” sê hy.

Vir nou, sê Marx, is sy fokus net by die Leeus en wat hulle moet doen om nog ’n suksesvolle Superreeks te hê. In die stadium behels sy rol ook die kapteinskap, iets wat hy nooit sien kom het nie.

As ek die span kan help, doen ek dit op enige manier wat ek kan.

“Toe coach Swys vir my sê hy wil my in Warren (Whiteley) se plek kaptein maak, het ek eers gedink hy maak ’n grap,” erken Marx.

“Ek het voorgestel hy vra vir Kwagga (Smith), want hy lei met wat hy sê én hoe hy speel. Maar toe sê die coach, nee, hy het met die ouens gepraat en dis wat die span wil hê. En dan is die saak reg. As ek die span kan help, doen ek dit op enige manier wat ek kan.”

As jy Marx vra om homself op te som, word hy ’n stamelende seun, soekend na die regte woorde. Uiteindelik kom die antwoord: “Ek probeer altyd om dinge beter vir die mense om my te maak.”

En dit kry die fronsende Marx op die rugbyveld én die glimlaggende Malcolm weg daarvan alte dikwels reg.

Meer oor:  Leeus  |  Superrugby  |  Malcolm Marx
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.