Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Dobson erken hulle het stryd ‘gesteel’

Dit voel asof ons diefstal gepleeg het.

John DobsonFoto: Gallo Images

Só het John Dobson, die afrigter van die Stormers, sy span se oorwinning met 33-30 oor die Leeus die afgelope Saterdag op Ellispark, Johannesburg, in hul Super-rugbywedstryd opgesom.

Nadat die Stormers die oorwinning in die laaste beweging van die wedstryd gegaps het, het Dobson so verslae en geskok gelyk soos iemand wat nou net gehoor het hy is as die nuwe beeldpoetser van die EFF aangestel.

“Dit was angswekkend en ’n marteling,” het Dobson gesê van die wipwaentjierit waarop sy span was om hul onoorwonne rekord in die reeks te behou.

Die Stormers is daarmee die enigste Suid-Afrikaanse span ná net drie weke wat nog nie slae gekry het nie.

“Ek het gedink ons het hierdie een weggegooi,” het hy gesê van die gerieflike voorsprong met 26-15 wat in die laaste kwartier verdwyn het en aan die Leeus ’n voorsprong van 30-26 besorg het.

“Die Leeus het ons teen die einde onkant betrap met die tempo waarteen hulle gespeel het,” het hy gesê van die twee drieë wat die tuisspan gedruk het om ’n dramatiese ommekeer te bewerkstellig.

“Dankie tog vir ons veggees en die feit dat ons geweier het om te gaan lê. Al was dit ’n baie stresvolle ervaring voordat ons kon seëvier, glo ek ons gaan baie baat vind uit hierdie wedstryd en dit wat ons van onsself geleer het,” het ’n verligte Dobson gesê.

“Ons het veral in die eerste helfte baie foute gemaak en ons taktiese skopwerk was ook nie goed nie. Ons moes hierdie wedstryd veel vroeër in ons guns beklink het as wat gebeur het,” erken hy.

“Al die druk was vooraf op ons, deurdat die indruk geskep is dat ons die oorweldigende gunsteling was. Dit het my die hele laasweek ongemaklik laat voel en ek het geweet die Leeus gaan vir ons kom.

“Dan het ons ook vir Herschel (Jantjies) en Jaco (Coetzee) gemis,” gee Dobson toe.

Tog was hy veral vol lof vir Pieter-Steph du Toit wat koelkop gebly het. “Pieter-Steph is ’n denkende rugbyspeler en is kalm en ’n ware boer,” het hy geglimlag.

Dobson voel sy spelers moet nie bang wees om teen ’n hoë tempo te wil speel nie.

“Daar is nog baie dinge wat veral op die aanval kan verbeter, maar dit is ’n groot verligting dat ons hierheen kon kom en uiteindelik weer ’n oorwinning op Ellispark kon behaal. Ek wil egter nie té veel om drieuur in die middag hier moet speel nie,” het hy gesê.

Meer oor:  Stormers  |  Leeus  |  Superrugby-Reeks  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.