Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Dobson gaan hard peins oor pad vorentoe

Behalwe vir die skitterende laaste 20 minute aan die einde van hul wedstryd teen die Pumas, het die Stormers nog niks in die Superrugby Unlocked-reeks vermag wat baie vertroue vir die pad vorentoe inboesem nie.

JD Schickerling Vrydag in aksie teen die Pumas. Foto: Gallo Images

Maar ja, hulle het net twee wedstryde agter die rug en die omstandighede was moeilik. Die eerste een, teen die Leeus, het die Stormers ingegaan met ’n ongemaklike loslootjie agter hulle nadat die res in die eerste ronde reeds ’n geleentheid gehad het om hul Covid-babalas af te skud.

Dan was daar verlede Vrydagaand se byna katastrofale gebeure in Mbombela, waar die Stormers ’n agterstand van 14-37 in ’n oorwinning van 42-37 oor die Pumas omskep het. Die aanloop tot daardie wedstryd was vir die Stormers chaoties nadat hulle die Dinsdag ingelig is dat Steven Kitshoff en Scarra Ntubeni afgesonder moet word omdat hulle in die wedstryd teen die Leeus in kontak was met ’n speler wat die koronavirus onder lede gehad het.

’n Mens moet dus perspektief behou alvorens jy die span net blindelings kritiseer.

John Dobson, die Stormers se afrigter, sal nou hoop vir ’n week sonder groot ontwrigting vir ’n baie hoë hekkie in die vorm van die Bulle Saterdag op Loftus Versfeld.

Die Bulle het met ’n wegholoorwinning van 41-14 oor die Haaie die afgelope Saterdag gewys presies hoe hoog daardie hekkie is. In die eerste twee rondes het die Pretorianers gesukkel om hul ritme te vind, maar Saterdag het die klavierspelers en -skuiwers mekaar baie goed aangevul.

Nama Xaba sal waarskynlik in hul beseerde kaptein, Siya Kolisi, se plek as nr. 6-flank begin.

Daar gaan beslis veranderinge aan die Stormers se span wees. Nama Xaba sal waarskynlik in hul beseerde kaptein, Siya Kolisi, se plek as nr. 6-flank begin.

Dan sal Dobson ’n plek wil vind vir JD Schickerling nadat dié brekerslot aan die voorpunt was van die sterk eindpoging wat ’n wen uit die kake van ’n liederlike nederlaag gered het.

Indien Kitshoff op loskopstut terugkeer, is hy straks ’n logiese keuse om die span in Kolisi se afwesigheid aan te voer.

Dan is daar die losskakel-toffie waar Tim Swiel se bestendige skopvoet Dobson dalk in die versoeking kan bring om hom bo Damian Willemse in die nr. 10-trui te behou.

John Dobson, die Stormers se afrigter, gaan vir etlike van sy spelers die leviete moet voorlees voor Saterdag se wedstryd teen die Bulle op Loftus. Foto: Gallo Images

So talentvol as wat Willemse is, kan hy deur sy onbestendige skopwerk sy afrigter se loopbaan kelder.

Teen die Leeus het hy ’n maklike skop pale toe verbrou wat die Stormers met enkele minute oor ’n voorsprong van nege punte kon gee. Uiteindelik moes hulle toe desperaat vasklou om te verhoed dat die Leeus die wedstryd met ’n drie in die doodsnikke wen.

Swiel was nie Vrydagaand in Willemse se afwesigheid spesiaal nie, maar was minstens koelkop wanneer hy pale toe gekorrel het.

Maar ook dié teenvraag is in Willemse se guns: Hoe ontwikkel ’n talentvolle jong speler as hy nie die kans kry om uit sy foute te leer nie?

Neethling Fouché, wat die Springbok-vaskopstut Frans Malherbe in die tweede helfte vervang het, klop ook hard aan die deur.

Vir Dobson gaan vandeesweek se span dus ’n moeilike een wees om te kies. Jy het groot spelers vir groot oomblikke in groot wedstryde nodig, maar Dobson kan hom nie uitsluitlik deur reputasie laat lei nie.

Meer oor:  Superrugby Unlocked  |  John Dobson  |  Stormers  |  Siya Kolisi  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.