Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Jonges laat John Dobson glimlag

Ofskoon John Dobson, hoofafrigter van die Stormers, tevrede was met die meeste aspekte van sy span se vertoning Sondag teen die Haaie, meen hy hul verdediging in die vaste fasette het veel te wense oorgelaat.

JOHANNESBURG, SOUTH AFRICA - JANUARY 19: Seabelo
Sergeal Petersen. Foto: Gallo Images

Die Stormers het die Haaie in ’n opwindende stryd met 21-19 op Superheld-Sondag in die FNB-stadion naby Soweto geklop, maar Dobson weet dat daar steeds ’n paar kinkels is wat uitgestryk moet word voordat die Superrugby-seisoen oor twee weke afskop.

“Ek dink daar is nog ’n probleem wat die kondisionering betref,” het Dobson ná die wedstryd gesê.

Dis veral die terugkerende Springbokke wat nog gewoond moet raak aan Dobson se nuwe planne.

“Ek dink ons verdediging in die vaste fasette was swak. Ons het ’n sisteem in plek en ná die Haaie byna ná een van hul rolmaalbewegings gaan druk het, het ek gesê hulle moet die sisteem toepas. Siya (Kolisi, die Bok-kaptein) het toe gevra ‘wat is dit?’, so hy het nie eers daarvan geweet nie.”

Kolisi het nie in dié wedstryd beïndruk nie. Inteendeel, het hy sy span twee goue kanse gekos omdat hy selfsugtig was en eerder stampkarrugby wou speel.

Dobson was wel beïndruk met die jonger garde in sy groep.

“Daar was heelwat individue wat hul hand opgesteek het.

“David Kriel gaan nog iets besonders wees. Dalk nie vandag nie en dalk ook nie môre nie, maar dit gaan gebeur. Hy het Vrydag die volle 80 minute gespeel teen die Kings en vandag weer uitgedraf.”

Dobson was ook in sy noppies met Godlen Masimla, wat as ’n plaasvervanger opgekom het en ook sy naam onder die puntemakers gekry het met ’n drie.

Sergeal is nie die grootste ou nie, maar ek weet nie of daar iemand is wat beter onder die hoë bal is nie. Hy is uitsonderlik.
John Dobson

Een van sy span se grootste uitblinkers was die buksie-skrumskakel Herschel Jantjies, wat twee keer agter die pale gaan draai het. Dit lyk of hy weer een van die Stormers se giftigste angels in vanjaar se reeks gaan wees.

“Ek het vir Herschel voor die wedstryd van tweedejaarsindroom vertel. Hy is besig om ’n staatmaker in die span te word en ons verantwoordelikheid vir die franchise en ook vir rugby is om seker te maak dat hy en Damian (Willemse) mekaar goed verstaan. Ek dink dis waar die Stormers se toekoms as skakelpaar lê,” het Dobson gesê.

Dobson beskou reeds vir Sergeal Petersen as sy beste vleuel, selfs met spoedvrate soos Seabelo Senatla en die Maties-ster Edwill van der Merwe in sy groep.

“Sergeal is nie die grootste ou nie, maar ek weet nie of daar iemand is wat beter onder die hoë bal is nie. Hy is uitsonderlik.”

Aan die Haaie se kant was veral twee van sy Bok-staatmakers, Lukhanyo Am en Makazole Mapimpi, op hul stukke.

Die twee het kragte saamgespan vir die Haaie se eerste drie, toe Am se uitstekende skoppie die hande van Mapimpi gevind het en die vleuel in die hoek oorgeseil het.

Mapimpi het nog ’n keer agter die pale gaan draai en gewys hy gaan beslis voortbou op sy uitmuntende Wêreldbeker-peil.

Die Haaie sal nie te bekommerd wees oor ’n moontlike sege deur hul vingers geglip het, want hulle het beslis ’n paar angels agter wat ’n bedreiging inhou.

Puntemakers: 

Stormers 21 (7): Drieë: Herschel Jantjies (2), Godlen Masimla. Doelskoppe: Damian Willemse (2), Jean-Luc du Plessis.

Haaie 19 (5): Drieë: Makazole Mapimpi (2), Marius Louw. Doelskoppe: Curwin Bosch, Boeta Chamberlain.

Meer oor:  Superheld-Sondag  |  Haaie  |  John Dobson  |  Stormers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.