Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Dobson loof sy Bokke sonder ego’s

John Dobson, afrigter van die Stormers, het sy Wêreldbeker-Springbokke vir hul ingesteldheid in die aanloop tot vanjaar se Superrugby-reeks geloof.

John Dobson (links), afrigter van die Stormers, Maandag saam met sy kaptein, Siya Kolisi, langs die Stormers se oefenveld in Bellville.Foto: Gallo Images

“Die aanvaarding en geesdrif van die terugkerende Bokke is uitsonderlik. Almal het my gevra hoe ek die situasie gaan bestuur, maar hulle is ongelooflik. Dit spreek boekdele van hulle as mense,” het Dobson Maandag by die Stormers se oefengeriewe in Bellville gesê.

“Hulle het groter aanbiedinge van die hand gewys om by die WP te bly en sou nie dit gedoen het as hulle gedink het dat hulle bo die res verhewe is nie. Hulle aanvaar ons visie van ’n span waarin geen supersterre is nie.”

Siya Kolisi, kaptein van die seëvierende Bok-span in die Wêreldbeker-toernooi, was Maandag op sy pos langs Dobson ná ’n paar maande van rondrits.

Ander Wêreldbeker-Bokke soos Pieter-Steph du Toit, Steven Kitshoff, Bongi Mbonambi, Frans Malherbe, Herschel Jantjies en Damian Willemse het ook die Wêreldbeker-glorie op die rak gelos om alles vir die Stormers in te sit.

Met dié dat Damian de Allende die WP verlaat het, gaan Dobson na verwagting die leemte op binnesenter deur die aanwins van die Walliese veteraan Jamie Roberts vul.

Daar’s nie een speler wat ons wou gehad het, of wou behou, wat ons nie gekry het nie.
John Dobson

Die 33-jarige Roberts was in sy fleur een van die voorste binnesenters in wêreldrugby en sy leierskap langs Willemse kan vir die Stormers deurslaggewend wees. Hy gaan hom na verwagting later vandeesweek of aanstaande week by die Kapenaars aansluit.

Dobson verwag nie dat administratiewe woelinge – soos die amptelike bevestiging Maandag dat die Westelike Provinsie-rugbyunie se uitvoerende hoof, Paul Zacks, die unie verlaat – sy span se kanse op welslae sal beduiwel nie.

“Ons is op ’n goeie plek in terme van die groep wat ons gebou het. Daar’s nie een speler wat ons wou gehad het, of wou behou, wat ons nie gekry het nie,” sê Dobson.

“Dinge gaan operasioneel baie goed. Ons voel dat ons ondersteun word en bemagtig is. Daar’s nie inmengery nie.

“Paul het goeie werk gedoen om te help om die groep te kontrakteer. Ons almal weet 2019 was van die veld af uitdagend, maar ons sit hier in ’n beter omgewing en met beter geriewe. Daar is geweldig baie positiewe energie.”

Kolisi sê ná al sy take van die veld af in die nadraai van die Bokke se WB-triomf geniet hy dit om weer op rugby te fokus.

“Dit was lekker om oor die wêreld heen rond te rits, maar dis goed om terug op die oefenveld en in ’n roetine te wees,” sê hy.

“Ek dink nie enige van ons wou die WP verlaat nie. Dit wys jou net hoe lief ons vir die unie is en hoe positief ons oor die afrigtingspan is.”

Meer oor:  John Dobson  |  Siya Kolisi  |  Superrugby-Reeks  |  Stormers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.