Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Dobson moet ernstig besin oor Willemse

Damian Willemse probeer eenvoudig te hard en gevolglik staan die Stormers se afrigter, John Dobson, nou voor ’n moeilike keuse: Hou hy by sy losskakel van die afgelope vier wedstryde of gee hy vir Jean-Luc du Plessis ’n geleentheid in die nr.10-trui vir Saterdag se Superrugby-kragmeting met die Blues op Nuweland?

Damian Willemse skop die bal weg onder druk van die Jaguares se Santiago Medrano in Saterdag se Superrugby-wedstryd op Nuweland. Foto: Jaco Marais

Om te kyk hoe Willemse rondtrippel in ’n poging om iets te laat gebeur en diep in sy eie halfgebied in besit betrap word, is beslis nie ’n resep vir vorentoe boer nie. Hy onderskei homself ook nie met sy skopwerk – pale toe of uit die hand nie.

Dobson het in die aanloop tot die vorige wedstryd teen die Leeus sy volle steun vir Willemse uitgespreek, wat waarskynlik ’n aanduiding is dat hy nog vir ’n rukkie by hom gaan staan.

Om aan ’n wenspan te torring, is opsigself ook ’n risiko. Die Stormers is immers die enigste onoorwonne span in die reeks en daar’s vyf punte tussen hulle en die span in die tweede plek in die Suid-Afrikaanse groep, die Haaie.

Hulle is besig om van wen ’n gewoonte te maak, met Dobson was meestal aan die span verander wanneer beserings hom dwing om dit te doen.

Saterdag se oorwinning met 17-7 oor die Jaguares was nie sag op die oog nie, maar die nat toestande het hanteerwerk bemoeilik en Dobson was origens tevrede met die vertoning wanneer dit teen die vorige naweek se poging teen die Leeus opgeweeg word.

“Dalk was dit moeilik om dit raak te sien, maar ons prosesse was veel beter. Ons was puik by die afbreekpunte, ons vaste fasette was stewig en ons het besit goed beskerm,” sê hy.

“Ons was aansienlik beter in die aspekte van ons spel wat ons wou opskerp. Om in die eerste helfte die bal vier keer in hul kwartgebied te verloor het, was wel frustrerend.”

Dobson meen ook daar was ’n verbetering in die Stormers se aanvallende spel, al het hulle net twee drieë aangeteken en was Herschel Jantjies s’n danksy ’n los aangee deur die Jaguares.

“Die toestande was moeilik. Ons het beter as die vorige week aangeval, die bal deur meer fases geneem en harder van die bal af gewerk. Ons het nie ons kanse goed benut nie, maar dit was gegewe die toestande beslis beter,” sê hy.

Jamie Roberts, die Stormers se Walliese huursoldaat en Speler van die Wedstryd, beur vorentoe in Satredag se Superrugby-wedstryd teen die Jaguares op Nuweland. Foto: Jaco Marais

Dobson gee toe die span se skopwerk uit die hand is nie waffers nie.

“Nóg Damian nóg Dillyn (Leyds) word vir hul kanonpote geken en ons vleuels (Seabelo Senatla en Sergeal Petersen) is nie skoppers nie. Dis moontlik ’n bron van kommer,” sê hy.

Dobson kan daarmee in gedagte dalk wik en weeg om hom op Jean-Luc du Plessis se groot linkerskopstewel te beroep en daardeur ook ’n nuwe taktiese deur oopmaak.

Dit moet egter opgeweeg word teen gesonde mensebestuur.

Dobson beplan ook nie om hierdie week vir spelers geleenthede te skep deur rotasie nie.

“Ons wil in ons eerste vyf wedstryde soveel as moontlik punte opstapel voor ’n loslootjie. Daarna kan ons dalk geleenthede skep en hopelik kan ons in ’n sterk posisie met ligapunte wees wanneer ons gaan toer. Ons gaan voluit vir hierdie wedstryd. As ons dit vyf uit vyf kan maak, gaan ons baie sterk staan,” sê Dobson.

* Puntemakers:

Stormers 17 (3): Drieë: Herschel Jantjies, Ruhan Nel. Doelskoppe: Damian Willemse (2). Strafdoel: Willemse.

Jaguares 7 (0): Drie: Rodrigo Bruni. Doelskop: Domingo Miotti.

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Stormers  |  Damian Willemse  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.