Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Dobson nie in vervoering ná sege
Die Stormers-blits Seabelo Senatla rond sy drie af in Saterdag se Superrugby-wedstryd teen die Bulle op Nuweland. Foto: Gallo Images

Die pasaangeër in die Suid-Afrikaanse groep én boaan die algehele puntelys: John Dobson, die Stormers se afrigter, bevind hom op terrein waarvan enige ander breier net kan droom. En tog knaag die senuwees ’n bietjie ná Saterdag se oorwinning van 13-0 oor die Bulle in hul Superrugby-wedstryd op Nuweland.

Ja, die Stormers het nou in twee wedstryde nie ’n punt afgestaan nie, maar Damian Willemse sukkel met sy stelskopwerk, die nodige diepte op haker ontbreek en die aanvallende spel was ook nie waffers nie.

Wat die probleem met stelskopwerk betref, sê Dobson, dis nie die eindproduk van ’n gebrek aan werk op die oefenveld nie.

“Damian is perfeksionisties en ek kan nie met sy professionalisme fout vind nie. Hy oefen hard aan sy stelskopwerk, so dis waarskynlik ’n bietjie meer ingewikkeld as net dit. Dis uiteraard vir ons ’n bron tot kommer,” sê hy.

“Ons trek by 30% of 40% van wat ons op die aanval kan vermag."
John Dobson

Die gebrek aan diepte op haker beteken ook dat Dobson vir Scarra Ntubeni as’t ware in die rooi moet druk tot diep in die tweede helfte. Daar is kommer oor Chad Solomon se vermoë om in die vaste fasette die pyp te rook en Dobson kan dalk in die komende weke ’n jongeling in Schalk Erasmus of Dan Jooste op die proef stel.

Hy meen ook sy span kan baie beter aanval as Saterdag teen die Bulle.

“Ons trek by 30% of 40% van wat ons op die aanval kan vermag,” sê Dobson.

“Met rustyd was die boodskap aan die spelers om fases te bou en ritme te kry, wat nie gebeur het nie. Die Bulle verdien krediet daarvoor, maar hierdie span het baie meer potensiaal op die aanval as wat tot nou gesien is.

“Dis jammer, want ons wil mense graag iets gee om oor te glimlag. Hopelik glimlag hulle oor die wen en kan ons nou teen die Leeus op Ellispark gaan wys wat ons met die bal in die hand kan vermag.”

’n Mens kon in die druk verkeer Nuweland toe aanvoel dat Kapenaars weer ’n span het wat hul verbeelding aangryp. Die skare was oor die 27 000 en kan selfs groter word indien die Stormers vandeesweek in Johannesburg hul wenmomentum voortsit.

Dobson sien ook die positiewe raak.

“Ons het aan ritme ontbreek, maar baie hard gewerk aan kultuur en die span se karakter, wat jy kan raaksien. Om in twee wedstryde nie ’n punt af te staan nie, is ’n prestasie,” sê hy.

“Ons sou bitter graag meer mooi drieë soos Seabelo Senatla s’n wou afgerond het, maar die Bulle het aanhou kom vir ons. Krediet aan hulle daarvoor. Ons sien uit na ’n wedstryd waar daar meer ruimte is en ons ritme op die aanval kan kry.”

Dobson gee toe die Leeus is nie meer so ’n gedugte span as wat hulle ’n paar seisoene gelede was nie, maar benadruk dat die Stormers hul balbesit goed gaan moet beskerm.

“Dit gaan ’n heel ander uitdaging teen die Leeus wees. Die wedstryd teen die Bulle was ’n tipiese derby. Saterdag gaan die skote op die aanval klap.”

Wat beserings betref, is die hou teen die kop wat die ysterflank Jaco Coetzee gekry het, die grootste bekommernis. Daar sal eers in die komende dae duidelikheid wees of hy teen die Leeus sal kan speel.

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  John Dobson  |  Stormers  |  Bulle  |  Superrugby  |  Nuweland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.