Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Dobson: Spelers moet etiek teen geld opweeg

’n Speler wat op die nippertjie sê dat hy van die omstrede 21-dae-klousule gebruik gaan maak om sy bestaande kontrak op te sê ten gunste van ’n aanbieding by ’n oorsese klub, se reputasie sal skade ly.

John Dobson, die Stormers se afrigter, is vol vertroue dat sy sterre nie hul kontrakte gaan opsê ten gunste van aanbiedinge oorsee nie. Foto: Gallo Images

Dit is die mening van John Dobson, die Stormers se afrigter, wat ondanks sy sterk gevoelens oor dié netelige saak in elk geval vol vertroue is dat geeneen van sy topspelers die pad wil vat nie. Dit sluit in Wêreldrugby se Speler van die Jaar, Pieter-Steph du Toit.

“Ek het geen aanduiding gekry dat iemand ons gaan, of wil, verlaat nie. Ons het gesprekke gevoer waar daar brandpunte was, so my gevoel is dat almal bly,” sê Dobson.

Suid-Afrika se beroepspelers het tot 14 Mei om hul kontrakte op te sê ingevolge ’n ooreenkoms tussen MyPlayers, die organisasie wat Suid-Afrika se beroepspelers verteenwoordig, en werkgewers.

Dit was ’n toegewing wat aan spelers gemaak is om Suid-Afrikaanse rugby se besparingsplan, wat salarisverminderings vir spelers insluit, deurgevoer te kry.

Die Westelike Provinsie Rugbyunie het wel vandeesweek wéér aan sy spelers gesê dat hy daardie ooreenkoms as ongeldig beskou.

As ’n speler ons die 13de sou inlig, sal dit ’n yslike breuk in onderlinge vertroue in die groep wees in terme van wat ons hier probeer bou.

“Ek het met baie spelers en hul agente gepraat. Indien ’n speler ons op die 13de inlig dat hy die WP verlaat, is daar twee elemente wat verder strek as net die reg. Dis meer ’n kwessie van etiek,” sê Dobson.

“As ’n speler ons die 13de sou inlig, sal dit ’n yslike breuk in onderlinge vertroue in die groep wees in terme van wat ons hier probeer bou. Hy sal ons verlaat met ’n reputasie wat skade berokken is.

“Die ander element is dat rugby ’n sport is wat op regverdigheid en ’n gemeenskap geskoei is. Enigiemand wat probeer vreet aan die karkasse van ander mense wat by ’n virus probeer aanpas, tree oneties en uitbuitend op. Dis amper ’n soort neokolonialisme.”

Desondanks sal daar Woensdag en Donderdag deur Suid-Afrika se unies naels gekou word, want geld praat dikwels harder as etiek.

“Rugby het homself in ’n situasie soos in sokker gekry waar daar ’n sperdatum is vir spelers om skuiwe te maak, wat ongewoon is,” sê Dobson.

“Dis waarskynlik een van die redes waarom die WP nie dié klousule as afdwingbaar beskou nie. Dit sal ons beskerm indien ons die ekstreme roete van ’n hofinterdik moet volg. Ek dink nie dit sal daarop neerkom nie.”

Dobson waarsku dat Suid-Afrika op dieselfde pad as ’n rugbynasie soos Fidji – met die oorgrote meerderheid van sy beste spelers oorsee – sal wees indien die 21-dag-klousule wyd toegepas word.

Hy erken wel dat die meerderheid provinsiale unies ingestem het tot die klousule – iets waarvoor oorsese klubs beswaarlik geblameer kan word.

As net sewe, agt of nege Bokke vir die plaaslike franchise-spanne speel, maak dit ons minder bemarkbaar en is daar ’n kommersiële impak.

“Ek dink die WP het sy standpunt duidelik gestel oor dié klousule,” sê Dobson.

“Ek begryp die bedoeling was goed om die bedryf te probeer red, maar daar’s nagevolge wat nie voorsien is nie. Indien ons rugbybedryf gaan herstel, en ons ’n situasie gaan hê waar ons nie net ’n netto uitvoerder van spelers is nie, het ons sterk kompetisies nodig.

“As net sewe, agt of nege Bokke vir die plaaslike franchise-spanne speel, maak dit ons minder bemarkbaar en is daar ’n kommersiële impak.

“Dit gaan daartoe aanleiding gee dat meer spelers in ryker markte gaan speel. Dit raak ’n gevaarlike terrein en dís een van die gevolge van hierdie klousule.”

Netwerk24 verneem dat min spelers Suid-Afrika gaan verlaat, want die oorsese markte is ook deur die Covid-19-pandemie geraak en klubs kan nie soveel spelers kontrakteer en sulke groot tjeks uitskryf as in die verlede nie.

Meer oor:  Koronavirus  |  Westelike Provinsie  |  John Dobson  |  Stormers  |  21-Dae-Klousule  |  Superrugby  |  Kontrakte  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.