Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Drieë sál kom, sê Bulle se aanvalsbreier

Daar was al groot teleurstelling en baie frustrasie, maar moenie té veel lees in die Bulle se drieëdroogte nie, sê Chris Rossouw, die span se aanvalsafrigter.

Dié voormalige Springbok-losskakel sê hy het begrip dat ontevrede ondersteuners van die Bulle vrae het oor die span se bedenklike aanvallende spel in die Superreeks.

Chris Rossouw, die Bulle se aanvalsbreier. Foto: Gallo Images

Die Bulle het sover twee wegwedstryde gespeel en kon nie teen die Haaie of die Stormers afrond nie.

Dit is nie dat daar geen onderneming op die aanval is nie, dit is dikwels ’n laaste aangee wat verlore gaan of ’n verkeerde besluit wat geneem word.

“Daar is baie frustrasie, want ons is ’n span wat juis ’n aanvallende benadering nastreef.

“Drieë is die eindproduk van ’n hele paar goed en dit is nodig dat ons ’n groter werkverrigting van die bal af het, meer fases bou, minder besit doelloos wegskop en klinies is.”

Rossouw sê hy lees nie wat in die media geskryf word nie, maar besef daar is baie druk.

“Ek dink daar sou kommer gewees het as ons geen kanse skep nie.

Ek het geen twyfel dat ons die span het wat mededingend kan wees en opwindende rugby kan speel nie.
Chris Rossouw

“Teen die Stormers het ons agttal teen die verwagtinge in goed gevaar en ons het baie geleenthede geskep.

“Ons moet kalm bly, want daar sal altyd hoogtepunte en laagtepunte wees.

“Dit is iets wat ons kan omdraai. Ek het geen twyfel dat ons die span het wat mededingend kan wees en opwindende rugby kan speel nie.

“Daar is baie jong spelers wat honger is en die ouens in die beginspan op hulle tone hou.”

Die samespel is nog nie wat dit moet wees nie, gee hy toe.

“ ’n Groot deel van die span het eers so twee, drie weke voor die kompetisie begin het, hier aangekom.

“Die laaste twee weke se voorbereiding (die Bulle het afgelope naweek ’n loslootjie gehad) was goed en ek is oortuig ons sal ’n verbetering sien in die opsig.”

Die Bulle speel Saterdag op Loftus Versfeld teen die Blues en Rossouw sê hulle wil nie weer soos verlede seisoen onkant betrap word nie.

Die Bulle het in 2019 die Stormers (40-3), Leeus (30-12) en die Haaie (37-14) oortuigend in plaaslike derbies geklop, waarna die Chiefs hulle met 56-20 afgeransel het op Loftus.

Manie Libbok is oorgehaal om ’n kans in die Bulle se beginspan te kry. Foto: Gallo Images

“Ons kon daardie dag nie aanpas by die ander benadering wat die Chiefs gehad het nie.

“Jy moet daarop voorbereid wees, want jy weet byvoorbeeld die Nieu-Seelandse spanne sal probeer om die vaste fasette te beperk deur nie uit te skop nie.

“Maar ook, daar is gewoonlik meer geleenthede op die aanval teen die Nieu-Seelanders.”

Die groot vraag is intussen: Wie gaan Saterdag die Bulle se nr. 10-trui dra, Morné Steyn of Manie Libbok?

“Ons sal sien hoe die span die naweek lyk. Dit is natuurlik Pote se besluit.

“Die vraag is nie hoe naby Manie aan die beginspan is nie, maar dit is eerder belangrik dat hy aanhou klop aan die deur.

“Hy en Morné het uiteenlopende sterkpunte, terwyl Chris Smith net so ’n goeie losskakel is.”

Libbok kan ook oorweeg word om Warrick Gelant op heelagter te vervang.

Gelant het sy knie teen die Stormers beseer en daar sal later die week ’n besluit oor sy beskikbaarheid geneem word.

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Blues  |  Bulle  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.