Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Drukkoker wag op jong Leeus in Buenos Aires

Die Leeus se rugbyspan sal moet uithaal en wys as hy die naweek verlede jaar se oorwinning oor die Jaguares in Buenos Aires wil herhaal in hul openingswedstryd in vanjaar se Superrugby-reeks.

Elton Jantjies verlede jaar vir die Springbokke in die Wêreldbeker-toernooi in Japan in aksie. Hy draf Saterdag voor vir die Leeus, maar sal nie noodwendig in elke Superrugby-wedstryd die Gautengers se kaptein wees nie. Foto: Getty Images

Verlede jaar het die Leeus die rariteit van ’n wegsege (25-16) oor die Jaguares ook vroeg in die seisoen behaal, maar hierdie keer lyk die span van Johannesburg aansienlik anders, met verskeie nuwe gesigte in sy geledere.

Daar is ook ’n nuwe hoofafrigter en ’n nuwe kaptein in onderskeidelik Ivan van Rooyen en Elton Jantjies.

Van Rooyen het Dinsdag, net voor die span se vertrek na Buenos Aires via Rio de Janeiro in Brasilië, gesê hulle het Maandag ’n baie stewige oefensessie gehad en dat hulle nie regtig intensief sal oefen wanneer hulle in Argentinië aankom nie.

“Dit sal dan maar hoofsaaklik daaroor gaan om die vlugflouheid af te skud en fisiek en sielkundig reg vir die wedstryd te wees,” het hy gesê.

Die afrigter gee toe dat geen oefensessie spelers regtig vir die stryd in Buenos Aires kan voorberei nie.

Daar anderkant wag ’n baie luidrugtige en vyandige skare op hulle, wat vir die Jaguares soos ’n ekstra speler of twee gaan wees. Dit is ook ’n plek waar jy dikwels van die skeidsregter-beslissings teen jou kry.

Die Jaguares sal die seisoen boonop met baie selfvertroue begin nadat hulle verlede jaar die eindstryd die eerste keer gehaal het.

“Dit gaan ’n intensiewe kort toer wees,” het Van Rooyen toegegee.

“Gelukkig het ons darem ’n paar spelers wat al daar gespeel het en weet wat om te verwag en hoe om die situasie te hanteer. Van die jonger en nuwe spelers gaan daar in ’n druksituasie getoets word.

“Die Jags is ’n span wat nie sommer veel rugby in hul eie helfte speel nie en hoofsaaklik aanval wanneer hulle in jou helfte kom. Ons sal in die eerste tien minute of so moet kyk of dit steeds hul benadering gaan wees, en dan sal ons ons planne as teenvoeter in werking stel.”

JOHANNESBURG, SOUTH AFRICA - MARCH 09: Ruan Verma
Die stryd in Buenos Aires begin Sondag om 01:00 (SA tyd). Foto: Getty Images

Van Rooyen reken dit gaan wel ’n kwaai eerste kragmeting daar in die vreemde wees, maar aan die ander kant is dit dalk net wat die jong groep nodig het om vir ’n tydperk op toer saam te wees en mekaar beter te leer ken en ’n groepsgevoel op te bou.

“Vir die spaneenheid is dit goed om so saam te toer. Ek is heel gemaklik daarmee om hierdie wedstryd vroeg in die reeks agter die rug te kry.”

Die Leeus het ’n vreemde benadering om hul kaptein van week tot week aan te wys. Hoekom so?

“Ons wil ’n goeie leierskorps opbou. Elton (Jantjies) is hierdie week die kaptein en ons vat dit daarna ook week vir week,” het Van Rooyen gesê.

Die gevaar met dié beleid kan egter wees dat Jantjies voel daar word nie genoeg vertroue in hom getoon om as die kaptein vir die seisoen aangewys te word nie.

“Onthou ook net dat Jantjies dalk later vanjaar by die Springbokke betrokke gaan wees en dan nie vir ons kan speel nie. Dit is dan goed om reeds ander kapteins te hê wat al daardie ervaring het.”

Jantjies het in André Warner en Morné van den Berg twee nuwe gesigte as die skrumskakels in die groep.

Die eertydse Blou Bul Warner hoort in die beginspan te wees. Die kaptein in die Curriebeker-reeks verlede jaar, Ross Cronjé, is geruime tyd buite aksie weens ’n besering en volgens Van Rooyen het Van den Berg ook die kans in die voorseisoen aangegryp om ’n indruk te maak.

Die afrigter het gesê sy span het hard gewerk om strukture in die voorseisoen te vestig.

“Die senuwees knaag, maar daar is ook groot opgewondenheid oor die seisoen wat voorlê.”

* Die stryd in Buenos Aires begin Sondag om 01:00 (SA tyd).

Meer oor:  Leeus  |  Superrugby  |  Jaguares
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.