Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Du Toit ‘nie antwoord’ vir slotkrisis

Dis onwaarskynlik dat die Stormers se slotkrisis hulle in die versoeking sal bring om vir Pieter-Steph du Toit in die enjinkamer te kies vir Saterdag se Superrugby-wedstryd teen die Hurricanes op Nuweland.

Pieter-Steph du Toit gaan na verwagting die Stormers se nr. 7-trui dra teen die Hurricanes. Foto: Gallo Images

John Dobson, hul afrigter, gaan in Cobus Wiese en JD Schickerling se afwesigheid na verwagting ’n slotpaar uit Salmaan Moerat, Chris van Zyl en David Meihuizen kies.

“Ons het nog nie gepraat oor die moontlikheid om Pieter-Steph du Toit op slot te kies nie, maar as jy die beste steelkantflank ter wêreld het, torring jy nie daaraan nie,” het Rito Hlungwani, die Stormers se voorspeler-afrigter, vandeesweek by die Westelike Provinsie se Sentrum vir Uitnemendheid in Bellville gesê.

“Pieter-Steph sal wel bereid wees om ’n opoffering te maak en as die span hom op slot benodig, sal hy die skuif maak sonder om te kla.”

Du Toit het nie in die voorseisoen vir die Stormers gespeel nie, maar is slaggereed vir Saterdag.

Moerat se insluiting as nr. 4-slot is straks ’n gegewe, maar die keuse van ’n slotmaat kan tot ’n interessante gesprek tussen Dobson en sy bestuurspan aanleiding gee.

Van Zyl is die WP se Curriebeker-kaptein en ’n leier, maar op 33-jarige ouderdom in die skemer van sy loopbaan. Die keuse van die 22-jarige Meihuizen is daarom ’n sterk moontlikheid.

Hlungwani is nie bekommerd oor die ervaring wat die Stormers in die lynstane kan inboet indien hulle vir Meihuizen kies nie.

David Meihuizen gaan waarskynlik een van die hemelbesems in die Stormers se 23-tal wees vir Saterdag se Superrugby-wedstryd teen die Hurricanes op Nuweland. Foto: Gallo Images

“Die spelers besluit vooraf op ’n lynstaanteken en sal vinnig kajuitraad hou. ’n Ervare speler kan dan ’n inset lewer as dit nie ’n goeie opsie is nie. Daar is dus ouens om die jong spelers te help met die tekens,” sê Hlungwani.

Selfs in Wiese en Schickerling se afwesigheid meen Hlungwani die Stormers se voorspelers kan steeds hul stempel sterk afdruk. Die Hurricanes is sonder twee van hul All Blacks, die losvoorspeler Ardie Savea en haker Dane Coles.

“Ons gaan op ons sterkpunte moet fokus. Dis ’n baie goeie pak, maar ons het ook ’n opwindende agterlyn,” sê Hlungwani.

Hy verwag die grootste gevaar wat die Hurricanes gaan inhou, sal agterlangs wees.

“Die geskiedenis wys dat die Hurricanes graag hardlooprugby speel. Ek dink dis wat hulle gaan poog om op ons af te dwing,” sê hy.

Hlungwani glo nie die verlies van Savea en Coles sal die Hurricanes noodwendig voorlangs kniehalter nie.

“Die Hurricanes het steeds ’n baie sterk pak en is ’n afgeronde span. Ons fokus is egter intern,” sê hy.

Meer oor:  Pieter-Steph Du Toit  |  Stormers  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.