Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Duane in 2019 dalk weer ’n Stormer

Die Stormers maak glo ook nou jag op die Springbok-agtsteman Duane Vermeulen se dienste vir aanstaande jaar se Superrugby-reeks.

Vermeulen, wat Dinsdag sy 32ste verjaardag gevier het, het pas ’n korttermynkontrak met die Kubota Spears in Japan gesluit.

Duane Vermeulen: Gaan hy weer ’n Stormer word? Foto: Gallo Images

Die Japanse seisoen maak vroeg in die nuwe jaar klaar en dan moet Vermeulen ander opsies oorweeg om deel van die Springbok-afrigter, Rassie Erasmus, se planne te bly vir aanstaande jaar se Wêreldbekertoernooi.

Daar is onlangs bespiegel dat die Engelse Premierliga-span Bath die gunsteling is om sy dienste te bekom. Bath is in die mark vir ’n agtsteman van wêreldgehalte omdat Taulupe Faletau waarskynlik vir Wallis in die Sesnasies-reeks gaan speel.

Om Vermeulen op ’n korttermyngrondslag te kry in die aanloop tot aanstaande jaar se WB-toernooi, is ’n logiese koers om in te slaan. Bath kan natuurlik ook groter tjeks skryf as enige Suid-Afrikaanse span, maar in ’n Wêreldbekerjaar kan dit Vermeulen help om nader aan die huis te wees.

Die Stormers is eersdaags ’n ervare agtsteman, Nizaam Carr, kwyt, maar het natuurlik vir Sikhumbuzo Notshe en Juarno Augustus as belowende spelers in die posisie.

Bygesê is Vermeulen op ’n aansienlik hoër vlak. Augustus is boonop ongetoets op Super-vlak.

’n Groot vraag sal natuurlik wees of die Westelike Provinsie die geld het om Vermeulen te kontrakteer.

Dis egter nie buite die kwessie nie, want die salarisrekening krimp met Carr, Raymond Rhule, JC Janse van Rensburg en Dewaldt Duvenage wat die WP verlaat.

Die WP is ook onder druk om meer ambisieus in sy kontraktering te wees. Dié unie kan eenvoudig nie nog ’n Superrugby-veldtog soos vanjaar s’n bekostig nie.

Indien die afrigtingspan van Robbie Fleck, Paul Feeney en Paul Treu behoue bly, sal dit hul derde seisoen saam aan die stuur wees.

Feeney het Woensdag daarop gewys dat ’n afrigtingspan drie seisoene nodig het om sy planne deur te voer.

“Die derde jaar is die een waarop afrigters hul visier stel. In jou eerste verander jy ’n paar dinge, in die tweede bou jy en dán moet jy in die derde welslae behaal,” sê hy.

Feeney voeg by dat Fleck nie oornag ’n slegte afrigter geword het nie.

“Daar is verlede jaar met lof oor hom gepraat en nou is hy kwansuis sleg. Jy kan of afrig, of jy kan nie. Dit verander nie binne 12 maande nie,” sê hy.

“Ek rig al 25 jaar af en 18 daarvan was as ’n beroepsafrigter. Daar is by my geen twyfel nie dat Robbie ’n goeie afrigter is. Ek staan bankvas agter hom.

“Ons het altyd oor 2019 as die jaar gepraat wat die een sou wees waarin ons die beste kans gaan staan om die kompetisie te wen. Ons het vanjaar aan van ons strukture geskaaf en besef sekere dinge het nie goed gegaan nie. Nietemin is ons danksy die ervaring beter afrigters.”

* Intussen kan Netwerk24 bevestig dat die Springbok-stut Frans Malherbe tot aanstaande jaar nog sy rugby in die Kaap sal speel.

Indien die Blou Bulle hom wil kontrakteer, soos bespiegel word, sal hulle die WP oor ’n moontlike vrystelling en oordragfooi moet nader. Dis egter onwaarskynlik dat die WP hul diepte in ’n sleutelposisie sal wil uitdun.

Superrugby-bepalings 

Superrugby-puntelyste 

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Duane Vermeulen  |  Stormers  |  Kubota Spears  |  Superrugby  |  Paul Feeney
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.