Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
‘Ek doen wat Bulle van my verwag’

Om die Jaguares in Buenos Aires te pak is toetsrugby wat as ’n kragmeting in die Superreeks verbloem word, sê die Bulle-senter, Jesse Kriel.

Jesse Kriel lê rieme neer nadat hy Saterdag op Loftus Versfeld deur die Haaie se lyn gesny het. Foto: Gallo Images

“Dit is soos ’n toets en jy moet dit verdien om daar te wen. Vir baie van ons spelers gaan dit ’n nuwe ervaring en ’n vuurdoop wees,” voorspel hy.

Die Bulle speel Saterdag in die Estadio José Amalfitani teen die Jaguares, wat stert in die lug is ná hul geskiedkundige onoorwonne toer in Australasië.

En dit boonop sonder die kaptein, Burger Odendaal, die Bok-slot Lood de Jager en Lizo Gqoboka in die voorry.

Kriel sê die Bulle moet net ’n manier kry om die wegwedstryd te wen.

“In Superrugby moet jy weg van die huis af kan wen. Ons glo vanjaar onwrikbaar ons kan enige span klop, maar dit hang van ons af.”

Die 24-jarige Kriel het die seisoen al ’n paar van sy kritici stil gespeel.

Hy is een van ’n groot groep spelers wat, nadat Rassie Erasmus by Allister Coetzee as Springbok-afrigter oorgeneem het, baie het om te bewys.

Die voormalige Bok-afrigter Nick Mallett het verlede jaar – nadat Suid-Afrika teen Ierland skandes gemaak het in Dublin – gesê nie Kriel of sy sentermaat, Damian de Allende, “verstaan ruimte of kan reguit en goeie lyne hardloop nie”.

“Hulle is groot en sterk, maar het geen gevoel vir die spel nie,” het hy gesê.

Ek lees geen mediaberigte nie, maar wanneer jy ander spanne ontleed en na die statistieke kyk, sien jy wie speel goeie rugby.

’n Paar maande later, en Mallett sal waarskynlik nou anders dink oor Kriel, wat na ’n nuwe speler lyk onder John Mitchell se mentorskap.

Dit is ook geen verrassing nie dat dié voormalige All Black-afrigter se naam genoem word wanneer jy Kriel oor sy oplewing uitvra.

“Mitch het ons sielkundige ingesteldheid verander. Ek dink nie dit is ’n geval dat ons nie die vaardighede gehad het nie.

“Sy beskouing is dat struktuur jou vryheid gee. Hy laat ons anders dink oor die spel en almal het daarop ingekoop om diensbaar te wees vir die stelsel en om vir mekaar te speel.

“Jy gaan elke dag van Loftus af weg met die gevoel dat jy gestimuleer is en iets nuuts geleer het.”

Daar is in rugbykringe sprake dat die Haaie se Lukhanyo Am die gunsteling is om die Bokke se buitesenter te wees, maar Kriel sê hy dink nog nie aan die komende toetsreeks teen Engeland nie.

“Ek lees geen mediaberigte nie, maar wanneer jy ander spanne ontleed en na die statistieke kyk, sien jy wie speel goeie rugby.

“My fokus is op dit wat by die Bulle van my verwag word.”

Kriel sal Saterdag in Buenos Aires met Handré Pollard in die middelveld kragte snoer.

“Handré is groot en fisiek en is goed op die verdediging. Ons sal Burger se leierskap mis, maar jy kan nie vir ’n beter plaasvervanger vra nie.”

* Die onervare Kiwi-skeidsregter Brendon Pickerill sou in beheer gewees het van die wedstryd, maar Sanzaar (wat in beheer van Superrugby is) het van plan verander en dit aan die Argentyn Federico Anselmi toegeken.

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Jesse Kriel  |  Bulle  |  Superrugby  |  Jaguares
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.