Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Etzebeth dalk dadelik losgelaat teen Bulle
Eben Etzebeth sal waarskynlik in Pretoria uitdraf.

Kaapstad. – Selfs al het hy laas in Maart gespeel, lyk die kanse goed dat die Springbok-slot Eben Etzebeth dadelik in die Stormers se beginspan sal wees vir Saterdagaand se Superrugby-wedstryd teen die Bulle op Loftus Versfeld.

Die plan was dat Etzebeth, wat ’n kuit beseer het, die afgelope naweek in die kragmeting met die Sunwolves in Singapoer sou terugkeer.

Robbie Fleck, breier van die Stormers, moes egter nog ander planne beraam. Die skuif van Rynhardt Elstadt flank toe om JD Schickerling op nr. 4-slot te sit, het nie vrugte afgewerp nie.

Die aanvanklike plan was om Pieter-Steph du Toit, die Stormers se ander Springbok-slot, verlede week te laat rus.

Dié plan is weens Etzebeth se besering laat vaar en Du Toit het met sy uithalerspel die Stormers waarskynlik van ’n nederlaag gered.

Gegewe die gewig wat Saterdag se wedstryd op Loftus dra, wat betref die stryd om die groep te wen, is dit onwaarskynlik dat Du Toit vandeesweek rus gegun sal word.

Behalwe vir Etzebeth, behoort die loskopstut Oli Kebble en die vleuel Leolin Zas na die beginspan terug te keer.

Daar sal nou swaar op Kebble staatgemaak word nadat JC Janse van Rensburg vermoedelik ’n ernstige kniebesering opgedoen het.

Zas keer terug van ’n skorsing en hy behoort Johnny Kotze as vleuel te vervang.

Dit sal interessant wees om te sien wat Fleck met Elstadt beoog. Elstadt is ’n speler wat fisiek inklim – ’n eienskap wat altyd teen die Bulle vereis word.

Dan weer speel die Bulle tans nie hul tradisioneel eendimensionele wedstrydspel nie.

Hulle lyk nou gevaarlik met die bal in die hand en kan teen ’n vinnige tempo speel – allesbehalwe ’n span wat bloot fisiek getem moet word.

Fleck is ook onder druk om sy sterkste kombinasies in te span. Tot voor die gelykop-wedstryd teen die Sunwolves – die tiende van die Stormers se veldtog – het hy Schalk Burger, Nizaam Carr, Siya Kolisi en Sikhumbuzo Notshe in sy losvoorspeler-kombinasie geroteer.

Met Elstadt se insluiting die afgelope naweek, was Burger en Notshe albei op die plaasvervangersbank.

Of daar vandeesweek plek vir twee losvoorspelers onder die plaasvervangers gaan wees, is te betwyfel.

Dit is nou tensy Elstadt as ’n losvoorspeler-slot saam met een van die ander twee diens doen en Schickerling uit die 23-tal weggelaat word.

  • Intussen het die Stormers se afrigter ontken dat oorgerustheid ’n rol gespeel het in die gelykop-stryd (17-17) teen die Sunwolves.

“Hierdie is ’n nederige span wat ongelooflik hard werk. Ons het eenvoudig nie goed gespeel nie. Ons is nie ’n arrogante span of een wat in die strik van oorgerustheid trap nie,” het Fleck gesê.

Superrugby-puntelyste

Superrugby-bepalings

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Eben Etzebeth  |  Loftus Versfeld  |  Stormers  |  Bulle  |  Sunwolves  |  Superrugby-Wedstryd
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.