Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Everitt loof Haaie se pak ná nederlaag

Die Haaie het aan die verkeerde kant van die telbord geëindig in hul Superheld-Sondag-stryd teen die Stormers, maar Sean Everitt het steeds die heuningkwas vir sy spelers uitgehaal.

Waar die Haaie Sondag al hul groot kanonne ingespan het vir die grootste deel van die wedstryd, het die Stormers veral voorlangs ’n verswakte pak op die veld gestuur.

Makazole Mapimpi Sondag op pad doellyn toe vir die eerste van sy twee drieë teen die Stormers. Foto: Gallo Images

Die Kapenaars het nietemin as 21-19-oorwinnaars van die veld gestap, maar die Durbaniete het vir groot dele van die wedstryd na die beter span gelyk, voordat grootskaalse veranderinge in die laaste 20 minute aangebring is.

Die Stormers het veral voorlangs kleigetrap in die skrums, met die Haaie wat hier stem dik gemaak het.

“Een van die grootste positiewe aspekte was ons vaste fasette, veral by die skrums,” het Everitt, die span se hoofafrigter, gesê.

“Ons was beslis die oorheersende pak in die eerste helfte. Ek sou nie sê dit was verrassend nie, want ons het baie hard gewerk en ons het twee baie goeie stutte, met Kerron van Vuuren wat ook mooi deurkom op haker.”

Buiten sy voorry, was Everitt ook beïndruk met die res van sy agttal.

“Le Roux Roets bied ons ’n bietjie ekstra gewig op slot en Hyron Andrews (ook ’n slot) is nou ’n ervare speler. Voeg nog die spelpeil van ’n paar ervare losvoorspelers by en dan het jy eintlik ’n goeie vertoning waarmee ons tevrede behoort te wees.”

Dit was uiteindelik die opportunistiese Herschel Jantjies, Bok-skrumskakel van die Stormers, wat die Haaie se doppie geklink het met twee drieë, maar die KwaZulu-Natallers het self gewys dat hul Wêreldbeker-wenners ook ’n bedreiging inhou.

Sean Everitt, die Haaie se breier, was vol lof vir sy voorspelers nadat sy span voor die Stormers die knie gebuig het. Foto: Gallo Images

Everitt glo Lukhanyo Am (buitesenter), Makazole Mapimpi en Sbu Nkosi (vleuels) het met hul vertoning gewys waarom hulle verlede jaar in Japan die Webb Ellis-trofee omhoog gehou het, terwyl Aphelele Fassi op heelagter ook hand opgesteek het vir insluiting in die beginspan. Hy kan hom ongelukkig ag dat ’n briljante individuele poging waarmee hy agter die doellyn gaan draai het, nie toegeken is nie nadat Ox Nche ’n Stormers-verdediger met die elmboog bygekom en die Haaie gevolglik vir obstruksie gestraf is.

“Ons was tevrede met hoe ons gespeel het. Dit was net ’n oefenwedstryd, so ons moet onsself nie te veel steur aan die uitslag nie,” het Everitt gesê.

“Buiten ons skrums was ons aanvallende spel en ons verdediging ook positief, hoewel ons ’n maklike drie afgestaan het. Ons het ook die vrugte gepluk van die harde werk wat ons by die afbreekpunte ingesit het tydens die voorseisoense voorbereiding.

“Ons het talle dinge by ons spelstruktuur gevolg wat gewerk het en dit was bevredigend om te sien.”

Die Haaie sal op 31 Januarie hul Superrugby-aanslag teen die Bulle begin wanneer die Pretorianers na Durban reis.

Die Haaie sal hier ’n appeltjie te skil hê met hul teenstanders nadat die Bulle hulle verlede jaar op Loftus Versfeld met 37-14 kafgedraf en ook die stryd in Durban met 19-16 gewen het.

Meer oor:  Superheld-Sondag  |  Haaie  |  Sean Everitt  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.