Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Robbie Fleck beloon sy Stormers-ysters

Robbie Fleck, die Stormers se afrigter, hoop kontinuïteit in sy spankeuses sal die deurslag gee vir bestendigheid wanneer sy span Saterdag met die Highlanders in ’n Superrugby-wedstryd op Nuweland kragte meet.

Pieter-Steph du Toit speel Saterdag teen die Highlanders in sy 50ste Superrugby-wedstryd vir die Stormers. Foto: Gallo Images

Met die uitsondering van die haker, Bongi Mbonambi, wat beseer is, het Fleck dieselfde opdrafspan as vir verlede week se gelykopstryd teen die Crusaders gekies. Scarra Ntubeni sal die nr. 2-trui dra, terwyl Chad Solomon die haker op die plaasvervangersbank gaan wees.

Damian de Allende, die Bok-binnesenter, is ook ná Donderdag se oefensessie op Nuweland fiks verklaar nadat daar vroeër in die week kommer oor ’n ligte beenbesering was.

“Dis belangrik dat ons teen presies dieselfde intensiteit en met ’n soortgelyke ingesteldheid speel. Ons wil ook ons taktiese benadering vroeg in die wedstryd afdwing. Dit het ons in staat gestel om ’n voorsprong teen die Crusaders te bou,” het Fleck Donderdag gesê.

“Ons het soos verlede week uitstekend voorberei. Alles was vandeesweek daarop gemik om die spelers fisiek te laat herstel en 100% akkuraat te wees met ons taktiese voorbereiding.”

Fleck het sy troepe Maandag van die oefenveld af gehou om hulle te laat herstel.

“Dit was ’n fisieke wedstryd teen die Crusaders en die intensiteit was soos dié van ’n toets. Ons het die ouens beloon met ’n bietjie tyd af Maandag, maar het Dinsdag en vandag (Donderdag) weer geoefen. Ons het dinge eenvoudig gehou om voort te bou op verlede week. Die fokus was vir die spelers om hulself fisiek en sielkundig voor te berei,” sê Fleck.

’n Paar spelers gaan van beserings terugkeer en sal ’n rol speel, maar as die span op verlede naweek kan voortbou, sal daar baie min veranderings wees.
Robbie Fleck

Hy hoop om in die komende weke deur sy spankeuses kontinuïteit te behou.

“Ons sal met elke geleentheid ons sterkste beskikbare span kies. ’n Paar spelers gaan van beserings terugkeer en sal ’n rol speel, maar as die span op verlede naweek kan voortbou, sal daar baie min veranderings wees,” sê Fleck.

Hy beskryf die Highlanders as “baie slim, gedissiplineerd en takties goed”.

“Hulle gee jou nie veel geleenthede nie. Ons sal slim moet wees in terme van hoeveel besit ons kry en hoe ons dit kry. Die Highlanders skop goed en gebruik die wydte van die veld. Die belangrike ding is om hulle te respekteer, maar om hoofsaaklik op ons eie taktiek te fokus,” sê Fleck.

Volgens Siya Kolisi, die Stormers se kaptein, plaas die spelers baie druk op hulself om hul standaarde hoog te hou.

“Ons het in die kleedkamer vir mekaar gesê dat ons nie een week goed en die volgende sleg kan wees nie. Mense het nou gesien wat ons kan doen en verwag meer daarvan,” sê Kolisi.

Die Stormers-span is: Damian Willemse, Seabelo Senatla, JJ Engelbrecht, Damian de Allende, Dillyn Leyds, Joshua Stander, Herschel Jantjies, Jaco Coetzee, Pieter-Steph du Toit, Siya Kolisi (k), Cobus Wiese, Eben Etzebeth, Frans Malherbe, Scarra Ntubeni, Steven Kitshoff. PLAASVERVANGERS: Chad Solomon, Corné Fourie, Wilco Louw, Kobus van Dyk, Sikhumbuzo Notshe, Justin Phillips, Jean-Luc du Plessis, Dan Kriel.

Meer oor:  Highlanders  |  Robbie Fleck  |  Stormers  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.