Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Fleck in hoek voor stryd teen Crusaders

Vir Robbie Fleck, afrigter van die Stormers, is daar vandeesweek ewe min beweegruimte as vir ’n Suid-Afrikaanse minister van finansies wat ’n begroting moet opstel.

JJ Engelbrecht is optimisties oor die sukkelende Stormers se kanse teen die kragtige Crusaders. Foto: Gallo Images

Om die Crusaders Saterdag in ’n Superrugby-wedstryd te klop, sal veel beter spel verg as enigiets wat die Stormers tot dusver vanjaar opgedis het, maar speler-gewys is die Kapenaars niks beter daaraan toe nie as voor hul laaste wedstryd – ’n nederlaag van 25-30 teen die Jaguares in Argentinië. Eintlik is die Stormers slegter daaraan toe, want die slot JD Schickerling en vleuel Sergeal Petersen gaan albei vir ’n geruime tyd buite aksie wees.

Jean-Luc du Plessis, die Stormers se gereelde losskakel, het vroeër vandeesweek met ’n dyspierbesering gesukkel. Indien hy nie herstel nie, is Josh Stander die gunsteling om die nr.10-trui dra.

Seabelo Senatla behoort vir Petersen te vervang en Cobus Wiese gaan waarskynlik van flank af slot toe geskuif word in Schickerling se plek.

’n Mens sou graag wou sien dat die jong Springbok Damian Willemse ’n kans op losskakel kry om die Stormers se aanvallende spel ’n bietjie op te kikker, maar die skielike gebrek aan diepte op die vleuel maak dit moeilik om vir Dillyn Leyds van daar af heelagter toe te skuif.

JJ Engelbrecht is ook nie ’n opsie op die vleuel nie, want in Ruhan Nel en Dan du Plessis se afwesigheid sal daar waarskynlik met hom as buitesenter volhard word. Dis nou tensy Fleck bereid is om EW Viljoen uit die bloute weer op buitesenter te kies. Viljoen het sedert sy terugkeer van ’n besering al ’n paar wedstryde vir die Westelike Provinsie in die SuperSport-uitdaagreeks agter die blad en is ’n bewese Superrugby-speler.

Wat daardie idee egter kan kelder, is dat hy nog nie vanjaar al in ’n 23-tal van die Stormers was nie. Teen die Crusaders kan jy nie bekostig om eers weer jou voete te vind nie.

Nóg ’n man wat in daardie kategorie val, is Craig Barry, die WP se kaptein in die SuperSport-uitdaagreeks. Hy het al as ’n buiteagterspeler vir die Stormers diens gedoen en oefen gereeld saam met die span, maar dit sal ’n riskante besluit wees om hom uit die bloute in die opdrafspan te kies.

Daar is bitter min tussen die spanne te kies op die puntelys en almal sukkel met hul Superbru! Ek dink nie dis reg of weg nie.
JJ Engelbrecht

Of Fleck bereid is om enige waagstukke aan te gaan, sal eers gesien word wanneer hy Donderdagmiddag sy 23-tal aankondig. Die Stormers lê onderaan die puntelys in die Suid-Afrikaanse groep, maar is slegs vyf ligapunte agter die voorlopers, die Haaie. Die Stormers het boonop ’n wedstryd minder as die Durbaniete gespeel. ’n Goeie 80 minute kan die prentjie baie anders laat lyk.

“Daar is bitter min tussen die spanne te kies op die puntelys en almal sukkel met hul Superbru! Ek dink nie dis reg of weg nie,” het Engelbrecht vandeesweek gesê.

“Ons dink vir geen oomblik dat dit maklik sal wees nie, maar ons dink beslis ons gaan wen.”

Dis ’n dapper voorspelling gegewe dat die Crusaders die Bulle op Loftus met 45-13 afgeslag het, maar Engelbrecht glo die Stormers het meer om te bied.

“Die Bulle kon nie bybly met die Crusaders se tempo nie. Ek glo ons sal dit beter kan doen.”

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Stormers  |  Crusaders  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.