Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Fleck se kop op blok in Melbourne
Die Stormers se afrigter, Robbie Fleck, se posisie kan dalk in gedrang wees as sy span Vrydag in Melbourne teen die Rebels verloor.Foto: Getty Images

Robbie Fleck, die Stormers se afrigter, het die afgelope week gepraat oor hoeveel wedstryde sy span straks gaan moet wen om die uitspeelrondes van vanjaar se Superrugby-reeks te haal, maar of hy nog aan boord gaan wees vir dié rit, kan reeds Vrydag in Melbourne bepaal word.

Kortom, die Stormers gaan die Rebels móét klop vir Fleck om die vertroue van sy werkgewer, die Westelike Provinsie Rugbyunie, te behou. Nog ’n nederlaag sal die Stormers met ’n droewige wenrekord van drie uit agt laat.

Ter verdediging van Fleck kon daar nooit realisties verwag word dat als tot nou klopdisselboom moes verloop het nie, want ses van die Stormers se eerste agt wedstryde is weg van Nuweland geskeduleer. Daar was verlede week teen die Reds egter net te min passie en uitnemendheid vir versagtende omstandighede om ter sprake te kom.

Om die skip in Melbourne om te keer kan baie moeilik wees sonder die hulp van gerekende voorspelers soos Eben Etzebeth, Pieter-Steph du Toit, Siya Kolisi en JD Schickerling.

Die Rebels het ook in die Wallaby-veterane Will Genia en Quade Cooper ’n skakelpaar waarop elke ander span in die wêreld jaloers sal wees. Hul regstreekse teenstanders in Stormer-gewaad, Herschel Jantjies en Jean-Luc du Plessis, het onderskeidelik nog net in agt en 26 Superrugby-wedstryde gespeel.

Die Rebels is ook meer vindingryk op die aanval. Hulle het in sewe wedstryde al 30 drieë gedruk teenoor die Stormers se beskeie 11.

Vir die Stormers om te wen gaan dit verg dat hul jong slotte, Cobus Wiese en Salmaan Moerat, en die flanke, Ernst van Rhyn en Kobus van Dyk, sterk vertonings lewer.

Vir die Stormers om te wen gaan dit verg dat hul jong slotte, Cobus Wiese en Salmaan Moerat, en die flanke, Ernst van Rhyn en Kobus van Dyk, sterk vertonings lewer.

Al vier het ’n groot rol om te speel in die lynstane – om seker te maak van besit op die Stormers se ingooie en in die geval van Van Dyk en Van Rhyn om ook die tekens te gee.

Om op die Rebels se ingooie mee te ding, is moeilik. Die Aussies het sover dié seisoen 93,4% van hul eie ingooie bemeester en dít word slegs deur die Bulle se 96,3% oortref.

Agterlangs het die Stormers ook ’n paar probleme. Hul buitesenter, die Blitsbok Ruhan Nel, neem langer as wat verwag is om op Superrugby-vlak aan te pas. Die alternatiewe opsie in dié posisie, Dan du Plessis, is beseer.

Van Sergeal Petersen se vaart en vaardighede is daar tot dusver ook min van gesien. Hy kry eenvoudig nie die bal in ruimte nie.

Natuurlik loop die Rebels nie op water nie, maar hulle is sielkundig sterk en daar is ’n hegte band tussen die spelers. Of die Stormers die sielkundige stoffasie en ’n plan het om hierdie uitdaging te trotseer, sal gesien moet word.

’n Rugbybal spring dikwels snaaks, maar vir Fleck was daar vandeesweek geen rede om rustig te slaap nie.

Die spanne is:

Rebels: Reece Hodge, Semisi Tupou, Tom English, Billy Meakes, Marika Koroibete, Quade Cooper, Will Genia, Isi Naisarani, Angus Cottrell, Luke Jones, Adam Coleman, Ross Haylett-Petty, Sam Talakai, Robbie Abel en Tetera Faulkner. PLAASVERVANGERS: Hugh Roach, Matt Gibbon, Jermaine Ainsley, Esei Ha’angana, Rob Leota, Richard Hardwick, Michael Ruru en Campbell Magnay.

Stormers: Damian Willemse, Sergeal Petersen, Ruhan Nel, Damian de Allende, Dillyn Leyds, Jean-Luc du Plessis, Herschel Jantjies, Jaco Coetzee, Kobus van Dyk, Ernst van Rhyn, Cobus Wiese, Salmaan Moerat, Wilco Louw, Bongi Mbonambi en Steven Kitshoff (k). PLAASVERVANGERS: Scarra Ntubeni. Corné Fourie, Frans Malherbe, Johan du Toit, Juarno Augustus, Justin Phillips, Josh Stander en Seabelo Senatla.

Skeidsregter: Mike Fraser (Nieu-Seeland).

Assistentskeidsregters: Brendon Pickerill (Nieu-Seeland). en Rasta Rasivhenge (Suid-Afrika).

TV-skeidsregter: James Leckie (Australië).

Afskop: 11:45 (SA tyd, SS 1).


Meer oor:  Robbie Fleck  |  Siya Kolisi  |  Melbourne  |  Rugby  |  Rebels  |  Superrugby  |  Stormers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.