Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Fleck speel met vuur teen Sunwolves

Die Skotse senter Huw Jones se dyspierbesering het Robbie Fleck, die Stormers se afrigter, opnuut op hete kole.

Fleck het gehoop dat Jones Maandag deel van die toergroep sou wees wat Singapoer toe vlieg vir Saterdag se Superrugby-wedstryd teen die Sunwolves, maar hy sal nou moet volhard met sy jong senterpaar van Daniël du Plessis en EW Viljoen.

Huw Jones van Skotland, wat vir die Stormers in die Superrugby-reeks speel, word neergetrek deur Italië se Tommaso Benvenuti in hul Sesnasies-stryd Saterdag in Edinburg. Foto: Getty Images

Met Jones bygereken, is daar nou drie toetssenters op die Stormers se krukkelys. Die Springbok-middelveldspelers Damian de Allende en Juan de Jongh gaan nog vir ’n geruime tyd buite aksie wees.

Daar sal na verwagting Dinsdag duidelikheid wees oor die erns van die besering wat Jones in Saterdag se Sesnasies-wedstryd teen Italië opgedoen het.

Intussen het Fleck ’n berekende risiko geloop deur drie van sy Bokke – die slotte Eben Etzebeth en Pieter-Steph du Toit, asook die vaskopstut Frans Malherbe, ingevolge die “Springbok-bestuursplan” te laat rus.

Volgens die ooreenkoms met die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) mag gekontrakteerde Bokke net 15 wedstryde in die veldtog speel en nooit meer as vyf agtereenvolgens nie.

Indien ’n span die eindstryd haal, sou hy sy veldtog met 18 wedstryde afgesluit het, wat dus die strategiese rus van Bokke ’n noodsaaklikheid maak.

Siya Kolisi, die Stormers se kaptein en Bok-flank, toer wel saam nadat hy verlede week ’n blaaskans gegun is.

In Malherbe se afwesigheid sal Wilco Louw na verwagting die nr. 3-trui dra, met die groentjie Frans van Wyk straks op die plaasvervangersbank.

Die slotte in die groep is die Westelike Provinsie se Curriebekerkaptein verlede jaar, Chris van Zyl, en JD Schickerling en Jan de Klerk. Gegewe dat hy gereeld op die bank is, is dit waarskynlik ’n uitgemaakte saak dat Van Zyl in die beginspan sal wees. Dis straks ook ’n goeie geleentheid om die ontwikkeling van die talentvolle jong Schickerling voort te sit.

Uiteraard is daar ook ’n risiko aan Fleck se skuif verbonde. Verlede jaar moes die Stormers raap en skraap om in Singapoer gelykop (17-17) teen die Sunwolves te speel en dit was met ’n aansienlik meer ervare groep spelers. Die Stormers speel egter in Fleck se tweede seisoen met meer selfvertroue en sal ook beter voorbereid wees op die vreemde toestande.

Saterdag gaan dit reën, maar dit gaan 32° C wees. Humiditeit en ’n bal wat moeilik is om te hanteer kan dit op enige dag ’n taaier wedstryd maak as wat ’n mens sou verwag.

Dit bly wel “maar net” die Sunwolves en die Stormers durf nie dat hierdie wedstryd, soos verlede jaar, in ’n klippekousessie ontaard nie. Jeugdige geesdrif, waarvan die Stormers baie het, is waarskynlik die beste teenvoeter teen oorgerustheid en ’n mens kan uitsien na hoe spelers soos Du Plessis, Viljoen, Shickerling en Van Wyk gaan vaar.

Die Stormers-toergroep is: Bjorn Basson, Kurt Coleman, Jan de Klerk, Dan du Plessis, Robert du Preez, Dewaldt Duvenage, Rynhardt Elstadt, JC Janse van Rensburg, Oli Kebble, Siya Kolisi (k), Dan Kriel, Dillyn Leyds, Wilco Louw, Godlen Masimla, Bongi Mbonambi, Sikhumbuzo Notshe, Caylib Oosthuizen, Ramone Samuels, JD Shickerling, Seabelo Senatla, Frans van Wyk, Chris van Zyl, EW Viljoen, Cobus Wiese, Damian Willemse.

Superrugby-bepalings

Superrugby-uitslae

Superrugby-puntelyste

Meer oor:  Stormers  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.