Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Frustrasie oor Brumbies se leë stadion

’n Gefrustreerde Phil Thomson, uitvoerende hoof van die Brumbies, sê dié span doen al die moontlike om weer toeskouers na sy tuiswedstryde in die Superreeks te lok.

Leë paviljoene was ’n kenmerk van die Brumbies se eerste twee Superrugby-tuiswedstryde vanjaar. Foto: Getty Images

Die Brumbies het nou al tien wedstryde agtereenvolgens in Canberra in die kompetisie gewen – wat die eerste twee kragmetings vanjaar insluit.

Dit blyk of rugbyondersteuners egter nie minder kan omgee nie, met minder as 8 000 toeskouers wat deur die Gio-stadion se hekke gekom het vir elk van die wedstryde teen die Reds en die Rebels.

Dit is ’n daling van 17% vergeleke met verlede jaar se eerste twee tuiswedstryde. Ná die eerste twee rondes het die Brumbies sover ’n beskeie gemiddelde bywoningsyfer van 7 267 toeskouers per wedstryd.

Dit is in sterk kontras met die Brumbies wat in die dae van Joe Roff, Stephen Larkham, George Gregan, George Smith en Owen Finegan gereeld ’n skare van 25 000 mense in die Australiese hoofstad gelok het.

Dié daling is in pas met al minder toeskouers wat ook in Suid-Afrika en Nieu-Seeland Superrugby-wedstryde bywoon.

Thomson het nuwe inisiatiewe vir kinders geskep en selfs ’n nuwe kuierarea geopen, waar gratis bier uitgedeel word. Sover alles vergeefs.

Ons sal graag meer mense by die stadion wil sien en ek dink die span verdien ’n groter skare.
Phil Thomson

Daar was groot kommer oor die bywoningsyfer vir die ontmoeting met die Reds, maar nog minder mense het opgedaag toe die Brumbies teen die Rebels gespeel het.

Die Brumbies speel Saterdag ’n derde keer tuis wanneer die Highlanders in Canberra kom draai.

“Dit is regtig ’n frustrasie wanneer die span goed vaar, want jy kan nie vir veel meer vra as om jou tuiswedstryde te wen nie.

“Ons sal graag meer mense by die stadion wil sien en ek dink die span verdien ’n groter skare,” het Thomson gesê.

Die spel is verlede jaar deur die modder gesleep in Australië met die Wallabies wat in die Wêreldbeker-toernooi teleurgestel het, terwyl Rugby Australië (RA) en Israel Folau deur ’n morsige “egskeiding” is.

RA is in ’n moeilike posisie in ’n tyd wat hy bakhand staan vir ’n nuwe uitsaai-ooreenkoms.

Thomson sê dit is duidelik dat die stand van die spel in Australië bywoningsyfers in Canberra beïnvloed.

* Ook in Engeland trek rugby swaar, met die Engelse Rugbyunie (RFU) wat aangekondig het dat hy sy begroting vir sy Eerste Liga byna halveer.

Die RFU het in ’n verklaring gesê die 12 spanne wat in die Eerste Liga-kampioenskap speel sal altesame £3,46 miljoen (sowat R66 miljoen) ontvang.

Dit is aansienlik minder as die £6,36 miljoen wat die klubs in die 2016-’20-tydperk by die RFU gekry het.

Bill Sweeney, die RFU se uitvoerende hoof, het gesê die klubs het nie die doelwitte gehaal waarop besluit is toe daar meer geld toegestaan is in die vorige termyn nie.

“Daar is verskeie vereistes waaraan voldoen moet word en ons moet toesien dat elke pond wat bestee word, geregverdig is.”

Sweeney sê ’n ontleding van die RFU het gewys die besnoeiing sal nie een van die klubs se voortbestaan bedreig nie.

“Die deur is steeds oop vir hulle om ’n plek in die Premierliga oop te speel, sou hulle die nodige finansiële hulpbronne hê en aan die minimum standaarde voldoen.”

Daar word egter bespiegel dat tot 200 beroepspelers in die Eerste Liga weens dié besnoeiing ná die huidige seisoen werkloos kan wees. – Reuters, rugbypass.com

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Rfu  |  Brumbies  |  Engelse Rugbyunie  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.