Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Geen Herschel of Pieter-Steph vir Stormers

Die hoop dat Herschel Jantjies, Pieter-Steph du Toit en JD Schickerling vir die Stormers sal kan opdraf in Saterdag se Superrugby-wedstryd teen die Haaie, het verdamp.

Pieter-Steph du Toit is nie beskikbaar om die Stormers se vuur teen die Haaie te stook nie. Foto: Gallo Images

Robbie Fleck, afrigter van die Stormers, het Maandag by die Kapenaars se oefenveld in Bellville die slegte tydings gebring nadat hy ná verlede naweek se oorwinning oor die Sunwolves nog hoopvol was.

Jantjies se sleutelbeen het in die slag gebly, terwyl Du Toit en Schickerling onderskeidelik met ’n skouer- en handbesering buite aksie was.

“Dit lyk op Herschel se skandering asof daar kneusing aan die been en geskeurde spier is. Die goeie nuus is dat dit nie ’n langtermynbesering is nie,” sê Fleck.

“Pieter-Steph behoort tussen vier en ses weke buite aksie te wees en JD moontlik nog ’n week.”

Die nuus oor Du Toit plaas ook ’n vraagteken agter sy deelname aan die Springbokke se toetse teen Australië en Nieu-Seeland – onderskeidelik op 20 en 27 Julie – in vanjaar se verkorte Rugbykampioenskap.

Robbie FleckFoto: Gallo Images

Aan die positiewe kant is die haker Scarra Ntubeni en vleuel Seabelo Senatla albei fiks verklaar.

Ntubeni se terugkeer kan die Stormers baie baat omdat dit aan hulle ’n ervare haker op die plaasvervangersbank sal gee. Dit kan akkuraatheid in die lynstane help verseker.

Senatla behoort die groentjie Edwill van der Merwe te vervang.

Die verlies van Jantjies gaan veral op die aanval gevoel word. Jano Vermaak, die man wat hom gaan vervang, was op sy dag ’n heerlike aanvallende skrumskakel, maar is op 34 nie meer vandag se kind nie.

“Herschel was tot nou fenomenaal en vir ons ’n sleutelspeler. Nietemin was almal dit eens dat Jano goed gevaar het oor die naweek en dis lekker om sy ervaring terug te hê. Maar ja, Herschel sal gemis word. Hy gee vir ons tempo in ons spel. Hopelik is hy fiks vir aanstaande week.”

Of daar ’n aanstaande week gaan wees sal natuurlik bepaal word deur wat Saterdag gebeur.

“Dis die laaste ronde en reg of weg. As ons wen, is ons in die uitspeelrondes. Indien nie, is ons uit,” erken Fleck.

Herschel Jantjies toe sy sleutelbeen nog ongeskonde was. Foto: Gallo Images

Hy meen die Haaie is ’n “taai” teenstander, maar put ook hoop uit die Durbaniete se nederlae die afgelope twee weke teen die Hurricanes en Jaguares.

“Daar is baie wat ons uit daardie wedstryde kan haal, asook uit ons wen in Durban vroeër vanjaar. Ons was takties slim,” sê Fleck.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.