Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
'Geen paniek oor Kings se toekoms'

Dit is nie ’n uitgemaakte saak dat die Kings sy plek in die Superrugby-reeks gaan verloor nie, en daarom is daar geen paniek in OP-Rugby nie.

André Rademan, nuutverkose president van OP-rugby, bly positief oor die unie se vooruitsigte.Foto: Michael Green

So het André Rademan, die nuutverkose president van die OP-Rugbyunie, gereageer op ’n navraag oor die emosies in die wandelgange.

’n Swaard hang oor die Oos-Kapenaars se kop sedert verlede maand aangekondig is dat die Superrugby-formaat in 2018 sal verander. Sedertdien het Sanzaar bevestig dat Suid-Afrika se aantal spanne van ses tot vier besnoei moet word.

Daar is sprake dat die OP-Kings en die Cheetahs die twee Suid-Afrikaanse spanne is wat nie die valbyl sal oorleef nie.

Rademan, wat op ’n uitdagende tyd die amp as president aanvaar het, nadat Cheeky Watson bedank het, het gesê dis nog nie ’n feit dat die Kings nie aanstaande maand Superrugby sal speel nie.

“Dit is nog nie ’n uitgemaakte saak dat ons en die Cheetahs gaan uitval nie. Die onderhandelings is baie sensitief.

“Ek het pas in Johannesburg met die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) vergader, en ek kan sê daar is nog geen besluit geneem nie,” het Rademan Woensdag gesê.

“Daar is baie kriteria wat in ag geneem moet word voor ’n onafhanklike ouditeur die besluit sal maak.”

Die kriteria ter sprake is die finansiële en ekonomiese lewensvatbaarheid van die unies, die volhoubaarheid van die ondersteuningsbasis, die span se prestasie, stadion en fasiliteite.

Rademan het ook gesê die OP-Kings se eiers is nie alles in een mandjie nie.

“Ons het ander goed in die pyplyn, so ek is nie paniekerig nie. Saru en al die ander unies was tot dusver baie tegemoetkomend en nie antagonisties nie. Almal probeer Suid-Afrikaanse rugby red.

“Ons gaan nie moed opgee nie, want daar is baie verskillende opsies op die tafel.”

Die Kings toer in Australië en sal die naweek teen die Reds te staan kom. Hulle het hul eerste wedstryd teen die Force met 46-41 verloor.

Volgens Rademan plaas die onsekerheid ekstra druk op die spelers.

“Die spelers doen hul bes, maar dis soos ’n swaard wat oor hul koppe hang. Daar is onsekerheid oor die kontrakte van die spelers en die afrigters en dit maak dinge moeilik.

“Ek bly egter positief en sal my nie laat intimideer nie,” het hy gesê.

Meer oor:  Formaat  |  André Rademan  |  Superrugby  |  Kings  |  Sanzaar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.