Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Geen vrees teen Crusaders, sê Fleck

Die druk op die Stormers om die Crusaders Saterdag op Nuweland te klop, is Vrydag aansienlik verskerp nadat die Jaguares en Bulle teen die verwagting in Doer Onder onderskeidelik met die Hurricanes en Rebels afgereken het.

Gaan Josh Stander, die Stormers se losskakel, sy tweestryd met die All Black Richie Mo’unga kan wen in Saterdag se Superrugby-wedstryd op Nuweland. Foto: Gallo Images

Dit beteken dat die Stormers nou agt punte agter die Bulle en Jaguares in die Suid-Afrikaanse groep van die Superreeks is, en vyf agter die Haaie.

Die Leeus, wat Saterdag op Ellispark teen die Highlanders speel, is twee punte voor die Stormers.

Die Stormers se doppie is nog lank nog nie geklink nie, maar die druk raak nou erg. Meer so gegewe dat die Crusaders oor die laaste drie seisoene net vier wedstryde verloor het.

Die Stormers kon hulle laas in 2010 klop, maar kom darem nou en dan met ietsie spesiaal vorendag wanneer niemand dit verwag nie.

’n Goeie voorbeeld daarvan was 2017 se sege van 34-26 in ’n ligawedstryd teen die Chiefs op Nuweland. Net die vorige seisoen nog het die Kapenaars hul kwarteindstryd met 21-60 teen die einste Chiefs verloor.

Die uitdaging is om Saterdag dieselfde soort inspirasie en dalk selfs meer te vind.

“Ek onthou hoe ek voor daardie wedstryd teen die Chiefs gesê het dat ons meer drieë as hulle gaan moet druk,” sê Robbie Fleck, afrigter van die Stormers.

“Hierdie naweek speel ons nie net teen die beste aanvallende span in die reeks nie, maar ook teen die beste verdedigende span. Ons moet die wedstryd vreesloos benader. Ons gaan takties móét speel, maar sal verloor as vrees ons bondgenoot is.”

Siya Kolisi, die Stormers se kaptein, meen sy span moet leer om voor elke wedstryd daardie inspirasie te vind eerder as om sporadies daarmee vorendag te kom.

“Ons is onbestendig. Ons het daardie kwarteindstryd só sleg verloor dat ons oorgehaal was om die ligawedstryd te wen. Ons was toe vooraf die hele week gefokus op wat ons wou bereik,” sê Kolisi.

“Vir ons om bestendig te raak, gaan ons elke week daardie inspirasie moet kan vind. Jy’t reeds verloor as jy dit nie kan doen voor ’n wedstryd teen die Crusaders nie.”

As ’n mens lank genoeg daaroor praat kan jy jouself natuurlik van enigiets oortuig. Die eenvoudige waarheid is dat die Crusaders in sleutelposisies met sterre toegerus is waarop die Stormers gaan sukkel om antwoorde te vind.

Fleck se hande was vandeesweek ook vasgebind. Het hy Damian Willemse losskakel toe geskuif, sou hy sonder ’n speler met ’n goeie skopstewel in sy agterste driehoek gewees het. Die relatief onervare Josh Stander moet byvoorbeeld nou oorkant ’n nr.10 van wêreldgehalte in Richie Mo’unga sy man staan.

Nietemin is dit ’n geleentheid – individueel en as ’n kollektief vir die Stormers. Die vraag is hoe groot hulle wenbegeerte is. Gaan die spelers hulself in die rooi druk, ophou om ongedwonge flaters te maak en ’n dimensie op die aanval vind wat tot nou toe ontbreek het?

Selfs dít sal dalk nie eers goed genoeg wees nie, maar die geskiedenis wys daar’s elke nou en dan ’n haas in daai hoed.

Stormers: Damian Willemse, Seabelo Senatla, JJ Engelbrecht, Damian de Allende, Dillyn Leyds, Josh Stander, Herschel Jantjies, Jaco Coetzee, Pieter-Steph du Toit, Siya Kolisi (k), Cobus Wiese, Eben Etzebeth, Wilco Louw, Bongi Mbonambi, Steven Kitshoff. PLAASVERVANGERS: Scarra Ntubeni, Corné Fourie, Frans Malherbe, Kobus van Dyk, Sikhumbuzo Notshe, Justin Phillips, Jean-Luc du Plessis, Dan Kriel.

Crusaders: David Havili, Sevu Reece, Jack Goodhue, Ryan Crotty, George Bridge, Richie Mo’unga, Bryn Hall, Kieran Read, Matt Todd, Ethan Blackadder, Sam Whitelock (k), Scott Barrett, Michael Alaalatoa, Codie Taylor, George Bower. PLAASVERVANGERS: Andrew Makalio, Harry Allan, Oliver Jager, Luke Romano, Jordan Taufua, Mitchell Drummond, Mitch Hunt, Braydon Ennor.

Skeidsregter: Nic Berry (Australië)

Assistent-skeidsregters: Marius van der Westhuizen en AJ Jacobs (albei Suid-Afrika)

TV-skeidsregter: Marius Jonker (Suid-Afrika)

Afskop: 17:15

Meer oor:  Stormers  |  Crusaders  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.