Van sy spanmaats spot hom nou dat die Haaitenk, en nie Loftus Versfeld nie, sy tuisveld is, sê Warrick Gelant, die Bulle se heelagter, met ’n verleë glimlag.
Hy het Saterdag ’n driekuns teen die Haaie in Durban gevier toe die Bulle teen die verwagtinge in met 40-10 geseëvier het in dié spanne se Superrugby-kragmeting.

Warrick Gelant lê Saterdag voet in in die Bulle se kragmeting met die Haaie in Durban. Foto: Gallo Images
Gelant het ook verlede seisoen drie keer gaan druk toe die Bulle in die kompetisie in Durban gaan draai het.
“Dit was ’n lekker gevoel om ’n bydrae te lewer, maar ek was gelukkig om hier en daar op die regte tyd op die regte plek te wees,” sê hy.
Hy voeg dadelik by hy het voor Saterdag ’n stryd gevoer om weer sy beste rugby te speel.
“Ons is prosesgedrewe en ek was nie heeltemal tevrede met dit wat ek die span gebied het nie.
“Soms probeer ’n ou te hard en dit was duidelik dat ek nie op my beste was nie.”
Die Bulle is nie veel van ’n kans gegee om die Haaie op hul tuisveld te klop nie – veral nie ná die vertonings wat hulle in Nieu-Seeland teen die Blues en die Hurricanes gelewer het nie.
Gelant sê die Bulle se onlangse sege oor die Stormers het hulle groot selfvertroue gegee en hulle het haarfyn beplan vir die Haaie.
“Die plan was om hulle vroeg op die agtervoet te kry deur met hoë intensiteit te speel. Om dit te sê is een ding, maar jy moet dit kan uitvoer.
“Dit gebeur nie altyd dat dinge vir jou op die rugbyveld verloop soos jy hoop of voor beplan nie.”
Ek het nog ’n lang paadjie om te stap en ek wil voortdurend ’n meer afgeronde speler word.
Warrick Gelant
Hoewel hy die kollig op hom gehad het, was dit ’n spanpoging, sê Gelant.
“Ons werk hard vir mekaar en jy sien dit veral op die verdediging.
“Die gemeenskaplike doelwit is om goeie rugby te speel en om ons toeskouers, wat die afgelope paar jaar harde klippe gekou het, trots te maak.”
Sy direkte teenstander Saterdag in die Haaitenk, Curwin Bosch, is self een van die opkomende sterre in Suid-Afrikaanse rugby en Gelant se vertoning is ’n tydige boodskap aan Rassie Erasmus, die Springbok-afrigter.
Gelant gooi vinnig wal wanneer jy hom hieroor uitvra.
“Nee, soos ek sê, ek het gesukkel met my spel. Ek glo as alles hier (op Loftus Versfeld) reg verloop, sal daar op nasionale vlak gebeur wat moet.
“Ek het nog ’n lang paadjie om te stap en ek wil voortdurend ’n meer afgeronde speler word.”
* Die Bulle-agtsteman Hanro Liebenberg sal Woensdag geopereer word nadat hy Saterdag ’n kniebesering opgedoen het.
Dr. Herman Rossouw, die Bulle se spandokter, sê Liebenberg sal minstens ses tot agt weke buite aksie wees.
Superrugby-bepalings
Superrugby-puntelyste
Superrugby-uitslae