Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Gelant bewys dat Leeus se ligte verdof het

As daar nou een voorbeeld is dat die Leeus se ligte oor die afgelope seisoen of twee verdof het, is dit dat die Springbok-heelagter, Warrick Gelant, besluit het om die Bulle vir die Stormers te verruil, eerder as om net oorkant die Jukskeirivier by die span van Nieu-Doornfontein te gaan speel.

En dit boonop nog nadat die Leeus hom glo meer geld as die Stormers aangebied het.

Die Leeus kon nog nie daarin slaag om die groot leemte te vul wat die vertrek van grootnaam-spelers soos Faf de Klerk gelaat het nie. Foto: Gallo Images

Nooit gesien nie. So min as drie, vier seisoene gelede sou so iets bykans ongehoord gewees het.

G’n regdenkende speler sou sommer die kans laat verbygaan om vir die voorste span in die land, die Leeus, te speel nie – veral nie as hulle jou boonop meer geld aangebied het as die unie waarheen jy uiteindelik is nie.

Maar so het die wiel begin draai en kan die Leeus gewis nie meer staatmaak op die titel as vaandeldraer van Suid-Afrikaanse rugby en die spogunie nie.

Dit was nie lank gelede nie dat die Stormers-breier, John Dobson, nog in ’n mediakonferensie op Ellispark gesê het Leeus-rugby is dié wat daar in die rugbyhemel gespeel word.

Vir die ringkoppe van die Leeus en hul ondersteuners moet dit dus nou gewis kommerwekkend wees dat iemand van Gelant se gehalte neus optrek vir hulle en ’n aanloklike kontrak van die hand wys.

Dit vertel beslis die verhaal dat Leeus-rugby nie meer so gesog is soos die tydperk toe hulle drie opeenvolgende jare (2016 tot 2018) in die Super-eindstryd gespeel het en verreweg Suid-Afrika se voorste span in dié gesogte reeks was nie.

Weens verskeie redes het die Leeus van hul voorste spelers aan hoofsaaklik oorsese klubs afgestaan.

Daar kan natuurlik geargumenteer word dat die Leeus die slagoffers van hul eie sukses geword het. Selfs Johan Ackermann, een van die hoofargitekte van hul sukses as afrigter, het verlore geraak. Verskeie van sy staatmakers is toe ook saam met hom Engeland toe.

Daar was egter ook ander faktore waar die vinger eerder na binne die unie gewys kan word waarom die Leeus al sagter brul.

Dit is wel so dat jy oor ’n tydperk van ’n aantal jare nie spelers van die gehalte van Andries Coetzee, Anthony Volmink, Ruan Combrinck, Madosh Tambwe, Tyrone Green, Lionel Mapoe, Rohan Janse van Rensburg, Harold Vorster, Jaco van der Walt, Faf de Klerk, Ruan Dreyer, Jacques van Rooyen, Malcolm Marx, Akker van der Merwe, Robbie Coetzee, Lourens Erasmus, Franco Mostert, Andries Ferreira, Kwagga Smith, Ruan Ackermann, Warrick Tecklenburg, Jaco Kriel en Warren Whiteley verloor en dit nie voel nie.

Kriel is darem nou weer terug en daar word nog geveg om Marx te behou.

Van die spelers wat oor die afgelope seisoen of wat aangeskaf is, boesem nie werklik die vertroue in van die name wat verlore geraak het nie.

Jamba Ulengo, Dan Kriel, Duncan Matthews, Manuel Rass, André Warner en Wilhelm van der Sluys is maar enkele van die spelers wat bekom is, maar nog nie werklik aan die gang kon kom nie.

Selfs twee deurwinterde Springbokke wat aangeskaf is, Jannie du Plessis en Willem Alberts, het weens die Covid-19-pandemie nog maar min speelkans gekry.

Die enigste posisie waar die Leeus oor die goue jare tot nou toe bestendig was, is losskakel, met Elton Jantjies wat die generaal is.

Sy adjudant, Gianni Lombard, wat al bykans ’n jaar lank weens ’n besering buite aksie is, toon ook baie belofte en kan selfs as heelagter en senter oorweeg word.

Tog sal Leeus-ondersteuners hoop dat nuwe spelers wat hulle binne die volgende paar maande by die unie kan aansluit, meer brul as van die flouerige kopies oor die afgelope jaar verskaf.

Meer oor:  John Dobson  |  Warrick Gelant  |  Malcolm Marx  |  Goue Leeus  |  Superrugby  |  Stormers  |  Springbokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.