Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
‘Gelukkig vergoed Cornal toe vir blaps’
Embrose Papier jil van plesier terwyl hy en Rosko Specman vir Cornal Hendricks (middel) gelukwens met sy drie. Foto: Felix Dlangamandla

Pote Human se hare het waarskynlik Sondag so ’n ekstra skakering grys bygekry in die laaste vyf minute van sy span se naelskraap-sege teen die Leeus in Soweto.

Die Blou Bulle het die Leeus in ’n drieëfees met 40-35 die loef afgesteek. Dit was ’n vertoonvenster vir aanvallende rugby – in skerp kontras met die treurige verdediging aan weerskante.

Die Pretorianers was in ’n stadium met 26-35 agter, maar hulle het twee laat drieë gedruk om laaste te lag.

Niemand het harder gelag nie as Cornal Hendricks, wat behoorlik op ’n wipwa was in die laaste minute.

Eers het hy die bal met ’n oop doellyn voor hom aangeslaan, net om dit oomblikke later, ná chaos in Leeus-geledere, in niemandsland op te pik en die wendrie vir sy span te druk.

Ek is baie bekommerd oor die feit dat ons net oomblikke gehad het waar ons goed gelyk het. Jy moet vir die volle 80 minute kan speel en jy kan nie punte op ’n skinkbord weggee nie.
Pote Human

“Die geluk was nie aan Hendricks se kant nie, maar daar aan die einde was die boodskap dat hy nou móét druk en gelukkig vir hom het hy. Dis ongelukkig dié soort foute wat jy nie kan bekostig in die Superrugby-reeks nie,” het Human ná die wedstryd gesê.

“Ek is baie bekommerd oor die feit dat ons net oomblikke gehad het waar ons goed gelyk het. Jy moet vir die volle 80 minute kan speel en jy kan nie punte op ’n skinkbord weggee nie.”

Die Bulle het talle sulke blapse begaan waar swak posisionering hulle duur te staan gekom het. Nietemin het hulle koelkop gebly en min onnodige strafskoppe afgestaan.

“Ek was beïndruk met ons dissipline. Ons was baie beter as wat ons verlede week was.”

Volgens Human is die hou wat Warrick Gelant teen die kop gekry het, niks ernstigs nie en behoort hy die week reeds gewoonweg te oefen.

“Ons het hom as ’n voorsorgmaatreël afgehaal, maar alle aanduidings is dat hy sal kan oefen,” het Human gesê.

Die besering was dalk ’n bedekte seën, met Manie Libbok wat toe heelwat speeltyd in die laaste vesting geniet het.

SOWETO: SOUTH AFRICA: JANUARY 19: Rugby supporters
Ondersteuners tydens Superheld-Sondag in die FNB-stadion. Foto: Felix Dlangamandla

“Ons wou ook sien hoe Manie op heelagter vaar en hy kon toe basies ’n volle wedstryd speel. Hy was vreesloos en hoewel hy soms die bal weggegooi het, is hy ’n talentvolle speler en het hy goeie goed gedoen.”

Oor die eksperiment met Hendricks op buitesenter wou Human nie dadelik ’n mening uitspreek nie.

“Ek sal weer na die beeldmateriaal moet kyk, maar ek dink nie Cornal was te sleg nie. Dit was die eerste keer in ’n lang tyd dat hy op buitesenter gespeel het.”

Die Bulle se breier sê Divan Rossouw, wat as ’n plaasvervanger opgekom het en ’n manjifieke drie afgerond het, het sy hand hoog opgesteek.

“Hy het vandag vir my gewys ek moet kennis neem van hom.”

Hy was ook liries oor Morné Steyn se terugkeer.

“Morné het die ouens kalm gehou en buiten ’n enkele swak skop was hy op sy stukke.”

Meer oor:  Pote Human  |  Superheld-Sondag  |  Leeus  |  Bulle  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.