Vir die eerste keer vanjaar het die Leeus ’n span kon aankondig wat so naby as dêmmit aan ’n vloekwoord is, onveranderd is van die vorige kragmeting.
Dit is net die langtermynbesering van die skrumskakel Dillon Smit, wat Ivan van Rooyen (Leeus-hoofafrigter) gedwing het om te torring aan die span wat naelskraap teen die Haaie verlede Vrydagaand in Durban vasgeval het.
Die Leeus reis dié week Kaap toe vir Saterdagaand se kragmeting met die Stormers in die Superrugby Unlocked-reeks.

Morné van den Berg gaan nou oond skoonmaak in die Leeus se opdrafspan nadat Dillon Smit ’n ernstige skouerbesering opgedoen het. Foto: Gallo Images
Morné van den Berg, wat Smit sommer vroeg in die wedstryd vervang het en hom uitstekend van sy taak gekwyt het, begin in die nr.9-trui op Nuweland. Wat die res betref, het Van Rooyen hulle die seël van erkenning gegee en behou in die beginspan.
Soos verlede week het hy tien plaasvervangers aangewys, met twee van hulle wat voor die wedstryd begin, uit die groep gelaat sal word.
Smit het sy linkerskouer sodanig ontwrig toe een van die Haaie in die Leeus se doelgebied op hom geval het, dat hy vroeër vandeesweek geopereer is.
Hy sal minstens vier maande buite aksie wees. Die ervare Ross Cronjé is die Leeus se skrumskakel op die plaasvervangerbank. Sy wysheid kan later in die wedstryd van groot waarde wees vir die span van Johannesburg.
Twee voormalige stutte van die Westelike Provinsie, Sti Sithole en Carlu Sadie, kry weer kans om ysterklou in die grond te steek op Nuweland.
Vasstaan sal hulle moet teen die formidabele Stormers-skrum indien hulle enigsins ’n kans op ’n sege wil hê.
Die Leeus besef maar al te goed hulle klim nie Vrydag op die vliegtuig Kaap toe as die gunsteling nie, maar sal so stilweg hoop en vertrou dat oorgerustheid die tuisspan kan pootjie.
In die eerste 50 minute van hul onlangse kragmeting op Loftus Versfeld was die Kapenaars so oorheersend, dat dit moeilik is om te sien hoe die Leeus die bordjies sal kan verhang.
Maar dalk kan die teenwoordigheid van Willem Alberts, Len Massyn, Sadie en Sithole dalk net meer woema aan die Leeus verskaf.
Leeus: EW Viljoen; Jamba Ulengo, Burger Odendaal, Dan Kriel, Rabz Maxwane; Elton Jantjies (k), Morné van den Berg, Len Massyn, Vincent Tshituka, Jaco Kriel, Marvin Orie, Willem Alberts, Carlu Sadie, Jaco Visagie, Sti Sithole. PLAASVERVANGERS: Jan-Henning Campher, Dylan Smith, Wiehahn Herbst, Wilhelm van der Sluys, MJ Pelser, Hacjivah Dayimani, Ross Cronjé, Gianni Lombard, Wandisile Simelane, Ruan Dreyer.