Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Gianni leer die betekenis van geduld

Geduld, waar is jou einde?

Dit is ’n sin wat ter sprake kan kom wanneer oor die 22-jarige Gianni Lombard van die Leeus se rugbyspan gepraat word.

Gianni Lombard verlede jaar in Canberra teen die Brumbies in aksie. Foto: Gallo Images

Sy uiters belowende rugbyloopbaan het verlede jaar op die Leeus se oorsese Superrugby-toer in April in Nieu-Seeland tot ’n halt gekom toe hy in die sege oor die Chiefs in Hamilton knieligamente geskeur het.

Dit was die eerste keer dat dié blink talent, wat in Worcester gebore is en ook vir die SA Skolespan en later die Junior Springbokke gespeel het, in die Leeus se beginspan in ’n Superwedstryd was.

Die vertroue in hom was sodanig dat hy op losskakel begin het, met die veel meer geroemde Elton Jantjies wat na senter geskuif het.

Toe tref die noodlot hom in daardie wedstryd, wat die Leeus teen alle verwagting in gewen het, en Lombard se seisoen kom met dié ernstige besering tot ’n voortydige einde.

“Ek glo alles gebeur met ’n doel,” het hy in ’n onderhoud gesê.

“Hierdie besering moes gebeur sodat ek van die groter prentjie bewus kon raak. Jy groei in sulke harde tye. ’n Woestyn-tydperk waarin jy jou bevind, maak van jou ’n sterker mens.

“Ek het ook in hierdie woestyn-tydperk baie genade van ons Hemelse Vader ontvang,” erken hy.

“Die grootste les wat ek geleer het, is om geduldig te wees. Geduld is maar die wagwoord, al kom dit nie altyd so maklik nie.

“Ek het ook geleer om nederig te wees en nooit te dink jy raak groter as die spel nie,” sê hy.

Dinge in jou lewe kan binne sekondes verander.

Tydens die inperking het Lombard ook die kans gekry om sy lang tydperk van die rugbyveld af beter te verwerk en nou is hy weer fiks en oorgehaal om deel van die Leeus-opset te wees wanneer rugby in die land hervat word.

Op skool het hy hoofsaaklik heelagter en vleuel gespeel, maar nadat hy hom by die Leeus se junior strukture aangesluit het, het hy na losskakel geskuif.

“Swys de Bruin (eertydse Leeus-afrigter) was die dryfveer vir my om losskakel te speel. Ek hou van die verantwoordelikheid wat die posisie my bied en om besluite op die veld te kan neem. Dit is ’n posisie waarin ek later in my loopbaan sal wil spesialiseer,” sê hy.

Hy beskou Jantjies as sy mentor en rolmodel as losskakel en Sean Erasmus, wat Lombard afgerig het toe hy vir Boishaai in die Paarl gespeel het, glo die Jantjies/Lombard-kombinasie kan ’n dodelike een word.

Volgens Erasmus hardloop Lombard weer voluit en sonder enige ongerief.

Meer oor:  Gianni Lombard  |  Leeus  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.