Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
'G'n teenvoeter vir Haaie se vaart'
Aphele Fassi het volgens Piet Strydom nog ’n paar tekortkominge, maar beïndruk met sy oog vir ’n gaping en aanvallende spel. Foto: Getty Images

Die opwinding wat die Haaie se rugbyspan sover vanjaar in die Superreeks verskaf, is omdat hulle ’n gelukkige span is wat vir mekaar speel.

Dít is die mening van Piet Strydom, ’n eertydse keurderbaas van Natal-rugby, wat ook ’n jare lange spanbestuurder van Natal en die Haaie was.

Hy verwag dat die Durbaniete gewis die uitspeelrondes van vanjaar se reeks sal haal en sê ondanks die jeugdigheid en min ervaring van dié span, laat hulle hulself deeglik geld.

Hulle het in Sean Everitt ’n rustige en gemaklike hoofafrigter, wat weet hoe om met sy jongelinge te werk.
Piet Strydom

“Met tye is daar wel gemengde gevoelens oor die Haaie en moet ’n mens realisties wees met die jong spelers. Tog voel ek hulle het in Sean Everitt ’n rustige en gemaklike hoofafrigter, wat weet hoe om met sy jongelinge te werk.

“Hy was slegs ’n paar jaar gelede nog heelwat van die spelers se afrigter by die o.19-span, wat die nasionale toernooi gewen het en hy ken dus die spelers waarmee hy nou te doen het,” sê Strydom.

“Die Haaie doen die basiese dinge reg en speel nie met allerlei tierlantyntjies nie. Die groot bate waaroor hulle agterlangs beskik en wat hulle so gevaarlik maak, is spoed.

“Die vaart waaroor van die spelers beskik, kan jy nie ’n teenvoeter voor vind as jy die teenstander is nie. Hulle huiwer ook nie om van diep binne hul eie halfgebied met teenaanvalle vorendag te kom nie en hulle besef goed wanneer ’n geleentheid hom voordoen om ’n teenaanval van stapel te stuur.

“Aphelele Fassi het wel tekortkominge met sy oordeel wat hom soms in die steek laat en sy taktiese skopwerk wat kan verbeter, maar hy het beslis ’n oog vir ’n gaping en is baie aanvallend. Dít is sy groot bate.

“Dan is daar Makazole Mapimpi se spoed wat uitstaan en al is André Esterhuizen nie ’n flambojante senter nie, weet hy hoe om sy span oor die voordeellyn te kry en is hy en Lukhanyo Am ’n uitstekende kombinasie in die middelveld.

“Ek glo Curwin Bosch se selfvertroue het verlede jaar ’n kwaai knou weg, maar Sean (Everitt) werk baie goed met hom en hy is besig om weer die uitstaande speler te word wat hy kan wees.

“Jy weet ook altyd wat jy uit Louis Schreuder gaan kry en die nuwe skrumskakel, Sanele Nohamba, is baie opwindend,” sê Strydom.

Die Haaie-haker Kerron van Vuuren op die aanval teen die Highlanders in Dunedin. Hy is sover vanjaar een van sy span se onbesonge helde. Foto: Getty Images

“Voor het die Haaie ouens wat ver bo hul gewig baklei en hul man staan. In Ruben van Heerden, Tyler Paul, James Venter en Kerron van Vuuren het die Haaie baie onderskatte spelers en dit is ouens wat bereid is om hul lyf op die spel te plaas.

“Verder het die afrigtingspan ’n baie goeie atmosfeer geskep en lyk sake baie meer positief as toe Robert du Preez die afrigter was. Met Du Preez en sy situasie met sy drie seuns daar, was dit net nie werkbaar nie en die spelers het ook nie vir hom gespeel soos wat nou die geval is vir Sean en Brent Janse van Rensburg (voorspeler-afrigter) nie.

“Deur reeds twee van hul wedstryde oorsee te gewen het, het hulle goed gedoen. Met ’n jong span soos hierdie gaan daar dae wees wanneer hulle wedstryde verloor wat hulle eintlik moes wen, maar ek voorspel hulle sal ten minste in die helfte van hul kragmetings bo eindig en wel die uitspeelstryde haal.

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Aphelele Fassi  |  Curwin Bosch  |  Durban  |  Superrugby  |  Rugby  |  Haaie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.