Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
‘Jy werk hier met mense se lewens’

Jy kan nie net een oggend opstaan en sommerso drastiese besluite neem wat mense se lewensbestaan in die gevaar stel nie, sê die Haaie se uitvoerende hoof, Eduard Coetzee.

Eduard Coetzee, die Haaie se uitvoerende hoof. Foto: Gallo Images

Daar is tans verskeie gesprekke in rugbygeledere aan die gang oor hoe die spel in Suid-Afrika kop bo water kan hou nadat die Covid-19-pandemie veroorsaak het dat die seisoen onbepaald opgeskort is.

Daar is wyd berig dat spelers salarisbesnoeiings sal moet aanvaar, soortgelyk aan wat in lande soos Engeland, Nieu-Seeland en Australië gebeur.

“Jy werk met mense se lewens. Dis nie ’n geval van jy staan net gou in die oggend op en besluit jy gaan nou dít of dát doen nie. Die hele wêreld is in ’n ongekende situasie,” het Coetzee Woensdag aan Netwerk24 gesê.

“Dis nog te vroeg om enige drastiese besluite te neem. Daar is gesprekke met Saru (die Suid-Afrikaanse Rugbyunie), MyPlayers is besig om te praat, so ons kyk wat daarvan kom.

"Ons weet nie wat gaan gebeur nadat die staat van inperking opgehef word nie, dalk speel ons weer in Junie of Julie. Tans bestuur ons maar net ons besigheid.”

Ons weet nie wat gaan gebeur nadat die staat van inperking opgehef word nie, dalk speel ons weer in Junie of Julie. Tans bestuur ons maar net ons besigheid.
Eduard Coetzee

Stephen Nell het vroeër berig MyPlayers, die Suid-Afrikaanse rugbyspelersorganisasie, vergader dié week om te besluit of die land se beroepsrugbyspelers in beginsel bereid sal wees om in te koop op ’n omvattende besparingsplan vir Suid-Afrikaanse rugby.

’n Covid-19-bestuurskomitee – bestaande uit SA Rugby, SA rugby se werkgewersorganisasie (Sareo), MyPlayers en Sport Employees Unite (die werknemers se vakbond) – het dié plan met kostebesnoeiings uitgewerk. Daar is berig dat alle rugbywerknemers, insluitend die spelers, kleiner salarisse sal moet aanvaar, maar die persentasie waarmee salarisse gesny kan word, is nog onbekend.

Rapport het Sondag berig dat die Covid-19-pandemie Saru tussen R27 miljoen en R33 miljoen per maand kan kos indien spelers nie teen Junie op die oefenveld is en die inperking nie voor einde Mei opgehef word nie.

Benewens Suid-Afrika, het elke groot rugbynasie reeds aangekondig dat ’n vermindering in salarisse vir spelers deel van sy aksieplan teen Covid-19 is. In Engeland is klubspelers se salarisse vir die res van dié seisoen met 25% gesny, terwyl die All Blacks glo ’n salarisverlaging van 10% gaan aanvaar.

Sean Everitt, die Haaie se breier. Foto: Gallo Images

Uit ’n suiwer rugbyoogpunt is die Haaie die Suid-Afrikaanse span wat die meeste rede het om gefrustreerd te voel met die onderbreking in die Superrugby-seisoen. Hulle beklee die voorste plek op die algehele puntelys en speel vanjaar vreeslose rugby onder die afrigting van Sean Everitt, wat die leisels as afrigter by Robert du Preez oorgeneem het.

“Vir ons is dit baie jammer dat die seisoen onderbreek is, maar ons verstaan daar is groter dinge as rugby,” sê Coetzee.

Coetzee het ook vanjaar eers die uitvoerende hoof geword nadat hy die unie se bedryfshoof was. Hy het by Gary Teichmann oorgeneem en ’n heel nuwe kultuur by die unie gekweek – een wat geskoei is op inklusiwiteit. Dit lyk asof die franchise onder sy leierskap gedy.

“Ek kan nie al die krediet vat nie. Ek en Gary het die drie jaar wat hy in beheer was en ek onder hom gewerk het ’n strategie in plek begin sit en dit werp nou vrugte af,” sê Coetzee.

Ek en Gary het die drie jaar wat hy in beheer was en ek onder hom gewerk het ’n strategie in plek begin sit en dit werp nou vrugte af.
Eduard Coetzee

“Die kultuur van die unie en spelers op en weg van die veld is tasbaar. Sean doen ’n ongelooflike goeie werk saam met sy ander afrigters. Ons bou steeds op die dinge wat ons in plek gesit het. Selfs by die huis is die spelers besig op sosiale media – hulle bring hul kant.”

Meer oor:  Sean Everitt  |  Eduard Coetzee  |  Kwazulu-Natal  |  Durban  |  Haaie  |  Uitvoerende Hoof  |  Superrugby  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.