Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Haaie haak vas teen hongerder Hurricanes

Die Hurricanes het die kode ontdek om die Haaie se opskietverdediging te ontsluit.

Wes Goosen van die Hurricanes ontduik André Esterhuizen se plettervat. Foto: Getty Images

Perfekte dwarsskoppe en slim steekskoppies bo-oor die aggressiewe verdedigingslinie het die Haaie Saterdagoggend (SA tyd) tot ’n nederlaag van 22-38 in Wellington verdoem.

Dít, ’n Haaie-strafskoptelling so lank soos die klagstaat teen Jacob Zuma en twee groot beseringsterugslae het tot die Durbaniete se eerste nederlaag in vanjaar se Superrugby-reeks gelei.

Die Springbok-vleuel Makazole Mapimpi en die jong losskakel Boeta Chamberlain is albei binne die eerste kwart van die veld af, met wat na harsingskudding gelyk het. Die Haaie het slegs twee agterspelers op die plaasvervangersbank gekies, so die senter Jeremy Ward is vroeg op vleuel opgestuur en die 21-jarige skrumskakel Sanele Nohamba het as losskakel gaan diens doen.

Dit was ’n reuse-ontwrigting, maar die Haaie het verbasend kalm gebly. Twee drieë in die eerste helfte – een ná skitterende werk deur Lukhanyo Am – het die Haaie gehelp om die rustyd op 17-elk binne te gaan.

In die eerste helfte het dit reeds duidelik geblyk die Hurricanes wil die blitsverdediging van die Haaie met skoppe troef. Hulle wou die ruimte aanval. Opskietverdediging is ontwerp om teenstanders se ruimte te steel, so dan moet hulle innoverende wyses vind om ruimte te ontsluit.

Dwarsskoppe is nie ’n nuwigheid in dié verband nie. Maar die wyse waarop die Hurricanes se heelagter, Jordie Barrett, en losskakel, Jackson Garden-Bachop, hul teikens op die punte getref het, was merkwaardig. Ngani Laumape en Ben Lam het albei drieë ná dwarsskoppe gedruk. Slim skoppies bo-oor die verdedigingslinie het die Haaie ook onder druk geplaas.

Madosh Tambwe is te laat om Ben Lam se drie te keer. Foto: Getty Images

In die tweede helfte het drie drieë binne 25 minute die Haaie se lot verseël. Hul verdediging op die reuse-vleuel Ben Lam was swak. Met albei sy drieë in die tweede helfte het Haaie van hom afgeval soos klere van ’n kaalnaeler.

Die strafskoppe wat die Haaie by die afbreekpunte en onder druk in die rooi gebied afgestaan het, was ook noodlottig en die Haaie het omtrent dubbel soveel strafskoppe soos die Hurricanes afgestaan.

Ook by die lynstane het die tuisspan die oorhand gehad.

Aphelele Fassi was onder meer druk as verlede week en het ’n paar foute begaan – ook op die verdediging. Nohamba verdien krediet. Hy is ’n onervare skrumskakel wat opgestuur is om in een van die moeilikste wedstryde van die jaar losskakel te gaan speel.

Hy het spoed en goeie voetwerk, en sy besluitneming was ook goed. Hy is beslis ’n ster vir die toekoms.

Dit was nie ’n goeie dag vir die Haaie nie, terwyl die Hurricanes puik was. Veral vir ’n span wat die afgelope twee weke van Wellington na Kaapstad na Buenos Aires en terug na Wellington moes reis.

Die Haaie is nietemin nie verneder nie. Hulle het baie foute begaan en kan aan van hul verdedigingsplanne slyp, maar verlaat Nieu-Seeland nietemin met een sege op hul kerfstok. Nou kan hulle daarop voortbou in Australië teen die Rebels en die Reds.

* Puntemakers:

Hurricanes 38 (17): Drieë: Wes Goosen, Ngani Laumape, Ben Lam (2), Dane Coles. Doelskoppe: Jordie Barrett (5). Strafdoel: Barrett.

Haaie 22 (17): Drieë: Madosh Tambwe, Tyler Paul, Mzamo Majola. Doelskoppe: Boeta Chamberlain, Sanele Nohamba. Strafdoel: Nohamba.

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Haaie  |  Superrugby  |  Hurricanes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.