Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Haaie het hopeloos te veel truuks

Aanvallende flair is so volop in dié Haaie-span dat dit vergoed vir groot gebreke wat enige ander span sou lamlê.

Die Haaie se André Esterhuizen gee die bal uit Saterdag gedurende sy span se stryd teen die Rebels in Melbourne. Foto: Getty Images

Daardie flair, tesame met hul opskietverdediging, het die Haaie Saterdag in die Australiese stad Ballarat gehelp om hul tweede oorwinning op hul Superrugby-toer te behaal. Hul lynstane en dissipline was weer swak, maar hul agterlyn met meer sterre as Hollywood se Walk of Fame het die oorwinning van 36-24 oor die Rebels verseker.

André Esterhuizen het ’n kapteinsbeurt op binnesenter gespeel en Sikhumbuzo Notshe en James Venter was die beste voorspelers, maar dit was die agterste driehoek van Aphelele Fassi, Makazole Mapimpi en Madosh Tambwe wat die toeskouers met vaart soos Usain Bolt s’n in vervoering gehad het.

Fassi is ’n towenaar op heelagter.

Die steekskoppie wat na Mapimpi se eerste drie gelei het, is ’n sprekende voorbeeld. Mapimpi sou drie drieë gedruk het, as hy nie sy derde onselfsugtig prysgegee het en die bal agter die doellyn vir Curwin Bosch gegee het om te druk nie.

Die Rebels is die eerste span wat die Haaie met opskietverdediging van hul eie aangevat het.

Die Durbaniete het dit verwag.

Hulle het hul aanvalle in twee vlae opgebreek – die eerste ontvanger, gewoonlik die losskakel, Bosch, het die bal van die skrumskakel ontvang en dan onmiddellik na ’n tweede ontvanger veel dieper as hy laat loop.

Die bal is dan vinnig na die res van die agterlyn versprei. Die taktiek het gemengde welslae behaal.

Die negatiewe sy is ooglopend – as die teenstanders jou dan vang, is jy ver agter die voordeellyn. Maar die Haaie het soveel vaart op die punte dat hulle gereeld eenvoudig rondom die Rebels gehardloop het.

In die eerste helfte het die Haaie ook met rolskoppies probeer om die Rebels se verdedigingslinie onkant te vang.

Die Rebels het ook dieper probeer speel om die Haaie se vinnige verdediging te kelder, maar het eenvoudig nie die skietgoed gehad nie.

Die Haaie het hulle net voor rustyd 40 meter terug geduik.

Die Haaie se dissipline raak egter nou ’n groot probleem. Hulle het vir vyf minute in die tweede helfte met 13 spelers gespeel nadat Kerron van Vuuren (gevaarlike duikslag) en Tambwe (herhaaldelike spanoortredings) geelkaarte gekry het.

Dit was wel nie die skeidsregter, AJ Jacobs, se beste vertoning nie. Hy het verskeie vorentoe-aangeë oorgesien en ook ’n paar vreemde beslissings op die voordeellyn en by die afbreekpunte gemaak.

Tambwe se drie het gevolg ná ’n vorentoe-aangee van Bosch, maar dit was die Australiese TV-skeidsregter, George Ayoub, wat besluit het die drie moet toegeken word.

Mapimpi se tweede drie moes ook nie toegeken word nie. Hy het die bal kort geplant. Jacobs het weer die hulp van Ayoub ingeroep, maar Ayoub kon nie genoeg bewyse vind om Jacobs se beslissing dat dit ’n drie was, om te keer nie.

Die Rebels se uitvoerende hoof, Baden Stephenson, het juis in die week gekla omdat plaaslike blasers besoekende spanne erg straf wanneer hulle in Suid-Afrika speel.

Dink net hoe gaan hy swets oor Jacobs se vertoning op Aussie-bodem.

Die Haaie sluit hul toer volgende week teen die Reds af. ’n Oorwinning daar is baie moontlik en sal ’n toer wat reeds ’n sukses is, in een verander wat die Haaie moontlik na die uitspeelrondes kan lanseer.

* Puntemakers:

Haaie (22) 36: Drieë: Makazole Mapimpi (2), André Esterhuizen, Madosh Tambwe, Curwin Bosch. Doelskoppe: Bosch (3). Strafdoel: Bosch.

Rebels (10) 24: Drieë: Marika Koroibete, Isireli Naisarani, Anaru Rangi. Doelskoppe: Andrew Deegan (3). Strafdoel: Deegan.

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Haaie  |  Melbourne Rebels  |  Superrugby  |  Superrugby-Reeks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.