Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Haaie in beter posisie as Stormers
Sikhumbuzo Notshe was weer skitterend in die Haaie se oorwinning oor die Reds. Foto: Getty Image

Die selfvertroue wat sy jong span huis toe sal neem nadat hy drie uit vier van sy Superrugby-toerwedstryde gewen het, is van onskatbare waarde.

Sean Everitt, die Haaie se afrigter, erken wel sy span was ietwat gelukkig in Saterdag se oorwinning van 33-23 oor die Reds in Brisbane, veral in die eerste helfte.

“Dit was ’n armdrukkery en nie ’n goeie eerste helfte nie,” sê Everitt.

“Ons was gelukkig om nie verder agter te wees as met 8-11 ná nege strafskoppe in die eerste helfte nie. Die drie van die Reds wat net voor rustyd nie toegeken is nie, was ook beduidend. Ek is wel trots op hoe die ouens in die tweede helfte teruggekom het.”

Hul lynstane en skrums was ook swak, net soos die dissipline wat gelol het.

“Ons lynstane het beter geraak in die tweede helfte. Ons het ook goed gevaar wat ons verdediging van hul rolmaalbewegings betref. Dit het ons gehelp om die wedstryd te wen,” sê hy.

“Met die plaasvervangers wat in die tweede helfte opgestuur is, het ons begin om die botoon in die skrums te voer.”

Die Haaie het 16 ligapunte en slegs die Stormers (17) het meer punte as hulle, maar vanweë die absurde afdelingstelsel, is die Haaie slegs vierde op die algehele ranglys.

Die Stormers het wel al vyf hul wedstryde tot dusver in Suid-Afrika gespeel en Saterdag ’n lelike nederlaag teen die Blues op Nuweland gely. Die Haaie, daarenteen, het slegs hul eerste wedstryd op Kingspark gespeel. Hulle bevind hulself dus in ’n beter posisie as die Kapenaars, wie se toer nog voorlê.

Dit was ’n kans om te groei, want daar was baie veranderinge sedert verlede jaar en die ouens het regtig in ’n hegte eenheid ontwikkel.
Sean Everitt

“Ons is ’n jong groep wat baie selfvertroue uit die toer sal put. Dit was ’n kans om te groei, want daar was baie veranderinge sedert verlede jaar en die ouens het regtig in ’n hegte eenheid ontwikkel,” sê Everitt.

“Om vier weke lank weg van die huis te wees, is moeilik. Veral as jy twee weke in Nieu-Seeland en dan twee weke hier is.

Hy sê die laaste week is altyd taai, want jy wonder of die ouens reeds een voet op die vliegtuig het.

“Maar die veggees wat hulle gewys het, het my trots gemaak. Ons het ’n manier gevind om te wen. Ek weet dit was nie vanaand mooi nie, maar die ouens veg vir mekaar.”

Die Haaie speel volgende week teen die Jaguares op Kingspark.

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Sean Everitt  |  Brisbane  |  Durban  |  Toer  |  Reds  |  Haaie  |  Superrugby  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.