Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Haaie keer nié onoorwonne terug na SA

Die Haaie se droom om onoorwonne van hul oorsese Superrugby-toer terug te keer, is Saterdag in Hamilton verydel deur ’n mengsel van hul eie ongedwonge foute en individuele briljantheid deur die Chiefs.

Sean Wainui, die Chiefs se regtervleuel, word deur Lukhanyo Am platgetrek. Foto: Getty Images

Die durf, mannemoed, desperaatheid en ywer was strykdeur daar, maar dit was eenvoudig nie weer, soos verlede week in Christchurch teen die Crusaders, goed genoeg nie.

Die Chiefs het ’n bitter opwindende wedstryd met 29-23 gewen. Elke liewe Haaie-speler kan egter trots wees op dít wat die span in Australasië vermag het.

Saterdag was die Haaie die slagoffers van hul eie ongeduld in ’n nat Hamilton.

In die eerste halfuur het die Haaie drie keer die bal binne tien meter van die doellyn aangeslaan. Met twee van daardie kere het hulle ’n opbou van rondom tien fases gehad.

So iets verander selfvertroue in frustrasie en vertwyfeling.

Die lenige slot Hyron Andrews het hierdie frustrasie ná ’n halfuur se spel so effens verlig toe hy die Haaie se eerste drie vanjaar in Nieu-Seeland gedruk het. Dit was boonop ’n skitterende, opportunistiese drie.

Sbu Nkosi het munt geslaan uit ’n fout in die lug deur die Chiefs nadat die Haaie ’n hangskop geloods het.

Nkosi het die bal gegryp nadat die tuisspan dit nie kon bemeester nie en Andrews het, bykans vanuit die niet, besit by die Bok-vleuel gegaps en 30 meter soos ’n wafferse resiesperd doellyn toe genael.

Andrews se drie het die Haaie gehelp om rustyd binne trefafstand, met die telling op 13-17 in die tuisspan se guns, te betree. Dít nadat hulle ná 26 minute met 0-10 agter was.

In die tweede helfte het die Chiefs die spel vinniger probeer maak, maar die Haaie het hulle goed in toom gehou met desperate verdediging.

Hulle het weer ’n keer of wat belowende bewegings met hanteerfoute windeiers laat baar, maar die druk is aanhoudend opgelaai.

Die All Black-haker Nathan Harris was ná 55 minute se spel die slagoffer van al hierdie druk, toe hy uit pure desperaatheid ’n bal vyf meter voor die doellyn op die grond vasgehou het.

Hiervoor het hy geel gesien en die Haaie het eers die voortou met ’n Ruan Botha-drie geneem en daarna verbete aan daardie voorsprong probeer vasklou.

Twee Chiefs-drieë in die 68ste en 69ste minute het die Haaie finaal gebreek. Die tweede van dié drieë, deur die kaptein en skrumskakel Brad Weber, sal ’n aanspraakmaker vir Drie van die Jaar wees.

Curwin Bosch het nog ’n goeie vertoning op die aanval gelewer. Foto: Getty Images

Die plaasvervanger-agterspeler Alex Nankivell het van die afskop af gebreek, die bal na die heelagter, Solomon Alaimano, laat loop voordat hy Weber weggestuur het. Die Haaie se verdediging was hier wel afwesig.

Die Haaie het steeds met leeuemoed bly aanval, maar die Chiefs was begeesterd en die Durbaniete se dapper poging is afgeweer.

Curwin Bosch het vir die derde agtereenvolgende week beïndruk met sy aanvallende vernuf in die nr. 10-trui.

Die jong heelagter, Aphelele Fassi (of “Voesie”, soos die Kiwi-kommentators sy van verrinneweer het), het ook ’n goeie wedstryd beleef.

Botha was alomteenwoordig in die groot nr. 5-trui, terwyl die steelkantflank, Jacques Vermeulen, homself oor ’n mik gewerk het in die ondankbare skadu’s van die loopgrawe.

In die Haaie-kamp sal daar asem opgehou word oor die fiksheid van die Springbok-stut Thomas du Toit, wat die veld vroeg verlaat het met wat na ’n beenbesering gelyk het.

Was dit nie vir Weber se tweede drie en ’n paar onnodige aanslane en verbroude duikslae nie, het die Haaie wél sonder ’n nederlaag na Suid-Afrika teruggekeer. Hulle het hul ondersteuners nietemin gewys daar is baie rede om in die span te bly glo.

* Puntemakers:

Chiefs 29 (17): Drieë: Brad Weber (2), Mitch Karpik, Anton Lienert-Brown. Doelskoppe: Marty McKenzie (3). Strafdoel: McKenzie.

Haaie 23 (13): Drieë: Hyron Andrews, Ruan Botha. Doelskop: Curwin Bosch. Strafdoele: Bosch (3).

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Haaie  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.