Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
'Stormers is regverdig gestraf'
Die Kiwi-blaser Mike Fraser het onder fel kritiek deurgeloop vir sy hantering van die Stormers en Chiefs se Superrugbywedstryd verlede Saterdag op Nuweland. Foto: Gallo Images

Hy het na videogrepe van die skrums in die stryd tussen die Stormers en Chiefs gekyk en Robert du Preez, die Haaie-breier, kan glad nie verstaan waarom Mike Fraser se hantering van dié faset so gekritiseer word nie.

Fraser het vandeesweek onder geweldige kritiek deurgeloop vir sy hantering van dié Superrugbystryd, wat die Chiefs met 15-9 gewen het.

Hy is Saterdag weer die skeidsregter wanneer die Haaie en die Chiefs mekaar in Durban die stryd aansê.

“Ek het met Mike gepraat en vir hom ’n paar videogrepe aangestuur waarna ek wou hê hy moes kyk. Ek het na die skrums ook gekyk en ek weet glad nie wat die probleem is nie, ek het niks fout gesien met die wyse waarop hy die skrums hanteer het nie,” het Du Preez Donderdag ten tyde van die Haaie se spanaankondiging gesê.

Robert du Preez, die Haaie se hoofafrigter, roep bevele uit ten tyde van ’n oefening vandeesweek in Durban. Foto: Gallo Images

Die breier sê dit behoort nie ’n probleem te wees as ’n Nieu-Seelandse skeidsregter ’n wedstryd behartig waarin ’n Kiwi-span speel nie.

“Skeidsregters maak foute en dit is deel van die spel. Ek dink wel dit stel Sanzaar (Superrugby se beheerliggaam) oop vir kritiek, soos hulle van die Stormers ontvang het (as ’n Kiwi-blaser ’n wedstryd behartig waarin ’n Nieu-Seelandse span speel). Ek het geen probleem daarmee nie. Mike moet net sy werk doen,” sê hy.

Die Haaie sal hoop Fraser het nie ’n wesenlike impak op dié stryd nie. Hulle is hoogs gemotiveerd om hard terug te slaan ná die nederlaag van 39-33 teen die Bulle.

Du Preez het nie te veel slapelose nagte gehad oor sy span se vertoning in daardie stryd nie.

“As die ywer en intensiteit daar is, kan jy nie die spelers verkwalik nie. Dít was Saterdag daar. Ons het swak begin en die vroeë geelkaart (Curwin Bosch) het ons duur te staan gekom,” sê hy.

Die Haaie se onvermoë om spel uit hul eie gebied te verplaas het hulle ook in die steek gelaat en Du Preez hoop om Saterdag ’n beter vertoning in daardie afdeling te sien.

“Ons het ’n goeie week se voorbereiding gehad en die gees en energie in die groep is goed. Ons wil vergoed vir verlede week se vertoning.”

Ons het ’n goeie week se voorbereiding gehad en die gees en energie in die groep is goed. Ons wil vergoed vir verlede week se vertoning.
Robert du Preez snr.

Geluk blyk ook aan die Haaie se kant te wees, aangesien hulle hul regrukpoging teen ’n saamgeflanste Chiefs-span moet uitvoer, wat sonder 20 staatmakers moet klaarkom.

Hulle word deur beserings verlam, terwyl die beleid dat Kiwi-spanne hul nasionale spelers vir twee weke moet laat rus voor die toetse in Junie nog vier All Blacks geëis het.

Tog bly Du Preez lugtig vir die besoekers uit Waikato.

“Ons weet enige span wat hulle in die veld gaan stoot, sal ’n goeie span wees, want hulle is Nieu-Seelanders en ons het respek vir hulle,” sê Du Preez.

Philip van der Walt is terug in die Haaie se beginspan vir Saterdag se kragmeting met die Chiefs in Durban. Foto: Gallo Images

In teenstelling met die Chiefs, het Du Preez sy sterkste moontlike span gekies. Hy het slegs drie veranderinge aan sy beginspan aangebring.

Die agttal is met die insluiting van Philip van der Walt ten koste van Jacques Vermeulen op oopkantflank versterk. Van der Walt het herstel van ’n hou teen die gesig wat hom ’n week lank buite aksie gehou het.

Agterlangs is Makazole Mapimpi plaasvervangersbank toe gepos nadat hy gesukkel het om die hoë balle te bemeester waarmee die Bulle hom deurgaans getoets het. Lwazi Mvovo, wat goed gespeel het toe hy Saterdag opgestuur is, sal in sy plek op linkervleuel begin.

Op skrumskakel vervang Louis Schreuder vir Cameron Wright as deel van die Haaie se rotasiebeleid.

Haaie:
Curwin Bosch, Sbu Nkosi, Lukhanyo Am, André Esterhuizen, Lwazi Mvovo, Robert du Preez, Louis Schreuder, Dan du Preez, Jean-Luc du Preez, Philip van der Walt, Ruan Botha, Tyler Paul, Thomas du Toit, Akker van der Merwe en Beast Mtawarira. PLAASVERVANGERS: Franco Marais, Juan Schoeman, Ross Geldenhuys, Stephan Lewies, Jacques Vermeulen, Cameron Wright, Marius Louw en Makazole Mapimpi.

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Mike Fraser  |  Robert Du Preez  |  Durban  |  Haaie  |  Superrugby  |  Afrigter  |  Skeidregter  |  Chiefs  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.