Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Haaie kweek nuwe speelstyl in 2020

Die Haaie van 2020 is ’n ander gedierte as die span van die vorige drie jaar.

Brent Janse van Rensburg, die span se nuwe voorspeler-afrigter, sê daar is ’n klomp veranderinge gemaak om die speelstyl by die nuwe spelerskorps aan te pas.

Brent Janse van Rensburg, die Haaie se nuwe voorspeler-afrigter. Foto: Gallo Images

“Daar is baie veranderinge by die Haaie gemaak om by die spelers se DNS aan te pas. Wat werk vir die tipe spelers wat ons het wat ons aanvallende spel, verdediging en skopstyl betref? Die tipe rugby gaan nie dieselfde wees as in die verlede nie,” het Janse van Rensburg vandeesweek in Durban gesê, waar die Haaie se Superrugby-veldtog Vrydag teen die Bulle begin.

“Dit is gedoen met die langtermyn in gedagte, hoe gaan ons die beste waarde uit ons spelers kry? Dit gaan nie net oor die kort termyn nie. Ons soek ’n volhoubare plan.

“Dit sal tyd neem voordat ons die plan vervolmaak, maar as ons aan die spelers kan vasklou en op die proses fokus, sal ons die plafon lig.”

Sean Everrit is die nuwe afrigter nadat hy by Robert du Preez oorgeneem het en verskeie spelers het groener weivelde oorsee gaan soek. Veral voorlangs is die Haaie nou veel ligter nadat Akker van der Merwe, Coenie Oosthuizen, Ruan Botha, Jean-Luc du Preez, Dan du Preez, Philip van der Walt en Jacques Vermeulen almal vort is.

Voorspelers soos Sikhumbuzo Notshe, James Venter, Ox Nche en Henco Venter, wat nou by die Haaie is, is veel meer beweeglik.

“Ons het mobiele voorspelers, wat ons agterspelers aanvul. Dit gaan wel belangrik wees dat ons spel goed is wanneer ons van aanval na verdediging skuif.

“Ons het in die voorseisoen hard gewerk aan daardie oorgang. Dit gaan ’n groot rol speel in hoe ons wil speel.

“Watter tipe rugby jy ook al wil speel, daar sal altyd ’n paar goed wees wat jy moet doen. Jou voorspelers moet vorentoe beweeg, jy moet jou vaste fasette wen, jy moet slim besluite neem, jy moet die teenstanders se momentum stuit. . . Al daardie goed bly onveranderd.”

Dit is opwindende tye, met ’n klomp nuwe spelers en afrigters. Die energie is baie positief en ons wil nou graag begin rugby speel ná ’n lang voorseisoen.
Brent Janse van Rensburg

Die vars groep bring vars energie, sê Janse van Rensburg.

“Dit is opwindende tye, met ’n klomp nuwe spelers en afrigters. Die energie is baie positief en ons wil nou graag begin rugby speel ná ’n lang voorseisoen.

“In rugby sal jy altyd spelers verloor, maar my filosofie is altyd om oplossings te soek. Ek dink die toekoms by die Haaie is goed, as ons hierdie groep spelers vir ’n paar seisoene kan hou, sal dit ’n baie sterk span wees.”

Hy sê die Haaie gaan die naweek beter wees as wat hulle op Superheld-Sondag teen die Stormers was, maar verwag dieselfde van die Bulle.

“Al die spanne sal sterker wees as wat hulle op Superheld-Sondag was. Die Bulle sal vir Lizo Gqoboka en Trevor Nyakane terugkry, wat ’n verskil sal maak.

“Suid-Afrikaanse derbies is net anders. Dit gaan ’n intense affêre wees.”

Meer oor:  Brent Janse Van Rensburg  |  Haaie  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.