Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Haaie maak dit 3 uit 4 op toer in Australasië

As jy drie van jou vier toerwedstryde wen selfs al lol jou dissipline en sukkel jy met vaste fasette so onbetroubaar soos ’n ANC-lid, kan jy maar trots voel.

Saterdag is die Haaie in Brisbane wel aangehelp deur ’n Reds-span so oninspirerend soos ’n Dirk van der Westhuizen-sokkietreffer.

Ruben van Heerden teen die Reds in aksie. Foto: Getty Images

Maar Sean Everitt, die Haaie se afrigter, kan met reg ’n baie tevrede man wees. Die toer is met ’n sege van 33-23 afgesluit en nou speel die Haaie die oorgrote meerderheid van hul oorblywende Superrugby-wedstryde in Durban.

Everitt sal daarom voel ’n plek in die uitspeelrondes wink. ’n Paar haakplekke moet eers uitgestryk word voordat hulle hulself as realistiese titel-aanspraakmakers kan sien.

Die Haaie se vaste skrums het in die eerste helfte gesukkel, hul lynstane was weer temperamenteel, hulle het ’n magdom strafskoppe afgestaan, veral by die afbreekpunte, en daar was ook hanteerfoute.

Maar dié span loop eenvoudig oor van die aanvallende vernuf. Die agtsteman, Sikhumbuzo Notshe, is ’n openbaring en die wyse waarop hy die agttal en agterlyn naatloos by mekaar laat inskakel, is van onskatbare waarde.

Saterdag is die laksman Makazole Mapimpi se kliniese vermoë om die nekslag toe te dien, wel gemis. Die Haaie bou hul wedstrydplan op teenaanvalle ná versmorende opskietverdediging.

Dit is van omkeerbesit af wat hulle die meerderheid van hul drieë druk en Mapimpi speel ’n groot rol daarin. Dis hy wat verseker dat die Haaie nege uit tien keer afrond.

Lwazi Mvovo, wat in sy plek gespeel het, het nie meer die vaart nie en het nog nooit oor dieselfde moordende ingesteldheid as Mapimpi beskik nie.

Die Haaie se laaste drie is wel op dié bloudruk gebou toe Notshe weer deurgebreek het en Madosh Tambwe gevoer het om doellyn toe te nael.

Lukhanyo Am was ook goed ná sy blaaskans verlede week. Hy het die uitslag in die laaste kwart buite verdenking geplaas met ’n onderskepdrie.

’n Mens kan wel nie help om jammer te voel vir Thomas du Toit nie. Hy het sy loopbaan as ’n belowende loskopstut begin en is daarna gevra om vaskop toe te skuif. Verlede jaar het hy gerondomtalie tussen die nr. 1- en nr. 3-trui. G’n wonder hy lyk in die skrums so deurmekaar soos ’n verkleurmannetjie op ’n reënboogvlag nie.

Sy voorrymaat die haker Kerron van Vuuren moet opdrag gegee word om ’n ganse naweek lank die een ná die ander bal teen ’n paal te gooi om sy ingooiwerk reg te ruk.

Die Haaie weet vanjaar wat hulle wil doen – druk toepas met hul opskietverdediging en dan toeslaan op die foute met hul briljante agterlyn.

Teen sommige spanne gaan hul gebreke voorlangs en dissipline hulle wel kos, maar dit is foute wat reggestel kan word. En daarom sal Everitt met ’n groot glimlag terugvlieg Suid-Afrika toe.

* Puntemakers:

Haaie 33 (8): Drieë: Kerron van Vuuren, Dylan Richardson, Lukhanyo Am, Madosh Tambwe. Doelskoppe: Curwin Bosch (2). Strafdoele: Bosch (3).

Reds 23 (11): Drieë: Henry Speight, Tate McDermott, Ed Craig. Doelskop: Jock Campbell. Strafdoele: Campbell (2).

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Reds  |  Haaie  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.