Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Haaie nog ver van Kiwi-slagters
Robert du Preez gee die bal uit tydens ’n Haaie-oefening in Durban. Foto: Gallo Images

In ’n verfrissende wending, is daar vanjaar ’n Suid-Afrikaanse span met ’n heel skaflike vertoningslys teen Nieu-Seelandse Superrugby-spanne – naamlik die Haaie.

Tog beteken dit hoegenaamd nie die Haaie het die geheime van Kiwi-rugby ontsyfer nie, sê Robert du Preez, die span se losskakel.

Daarom sal hulle uiters onnosel wees om te dink ’n sege Saterdag in Durban teen ’n erg verswakte Chiefs-span is ’n blote formaliteit.

“As jy ’n teenvoeter vir hul wenresep kry, dan verander hulle eenvoudig die resep,” waarsku Du Preez.

Ons het reeds ’n mate van sukses teen Nieu-Seelandse spanne behaal, maar ek sal nie sê ons het nou Kiwi-spanne se kodes as’t ware ontsyfer nie.
Robert du Preez jnr.

“Ons het reeds ’n mate van sukses teen Nieu-Seelandse spanne behaal, maar ek sal nie sê ons het nou Kiwi-spanne se kodes as’t ware ontsyfer nie. Ek dink ons lig ons spelpeil as ons teen Kiwi-spanne speel.

“Dit kan deel van die probleem wees wanneer ons teen Suid-Afrikaanse spanne speel. Ons daag nie heeltemal op nie, maar teen Kiwi-spanne is ons vreeslik gemotiveerd. Dis uiteraard nie reg nie, maar ek dink dit is wat gebeur.

“Ons het sukses gehad teen Nieu-Seelandse spanne en die Chiefs weet dit, so hulle sal baie goed voorbereid wees,” sê hy.

Die Haaie het reeds die Blues in Auckland geklop en die Highlanders in Durban ’n lekker loesing toegedien. Hulle het boonop ná ’n doodsnik-drie met een punt teen die Hurricanes in ’n rillerstryd in Napier verloor.

Die Bulle het die Haaie Saterdag op Loftus Versfeld met 39-33 getroef, so die Durbaniete sal graag wil terugslaan met ’n sege oor die Chiefs.

Anton Lienert-Brown (Gallo)

Die Nieu-Seelanders sal sonder soveel as 20 staatmakers moet klaarkom. Verskeie spelers sukkel met beserings, terwyl ysters soos Nathan Harris, Brodie Retallick, Damian McKenzie en Anton Lienert-Brown ’n blaaskans gegun word weens die beleid dat All Blacks twee naweke moet afkry voor die Junie-toetsreeks teen Frankryk.

“Dit verander nie ons ingesteldheid nie. ’n Kiwi-span kan ’n span in die veld stoot sonder enige Superrugby-ervaring en hulle sal steeds mededingend wees. Hulle hou net aan om goeie spelers op te lewer.

“Ons kan dié stryd dus geensins ligtelik opneem nie. Of hulle nou hul sterkste of derde sterkste span in die veld stoot, ons moet steeds uitgaan en ons ding doen en ons ondersteuners trots maak.”

Nietemin glo hy nie die Chiefs sal vreeslik afwyk van hul wedstrydplan nie.

“Hul strukture sal nie vreeslik verander nie. Hulle mag dalk nuwe spelers hê, maar dit sal moeilik wees om binne ’n week jou struktuur te verander. Maar dan weer weet jy nooit wat om te verwag van Nieu-Seelandse spanne nie.”

Du Preez glo die bonuspunt wat die Haaie teen die Bulle gekry het, kan nog van onskatbare waarde wees.

“Dis nogal ’n tendens van dié span – as ons verloor, kry ons gereeld ’n bonuspunt. Dis ’n getuigskrif van die veggees in die groep.

Die Jaguares, die Bulle en ons het dieselfde punte (24) en die Stormers het 23. So ons het nog alles om voor te speel. Ons lot is steeds in ons eie hande.
Robert du Preez jnr.

“Die spanne is baie naby aan mekaar op die puntelys (in die Suid-Afrikaanse groep). Die Jaguares, die Bulle en ons het dieselfde punte (24) en die Stormers het 23. So ons het nog alles om voor te speel. Ons lot is steeds in ons eie hande.”

Die Leeus gee steeds die toon aan in dié konferensie met 31 ligapunte.

“Ons is nie in ’n situasie waar ons op ander spanne moet staatmaak om te wen of verloor nie. As ons al ons oorblywende wedstryde wen, behoort ons die uitspeelrondes te haal. Daardie bonuspunt was dus baie belangrik.”

Hy sê ook dis belangrik om Saterdag momentum op te bou voordat hulle volgende week na Argentinië reis om teen die Jaguares te speel.

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Robert Du Preex  |  Durban  |  Superrugby  |  All Blacks  |  Losskakel  |  Chiefs  |  Rugby  |  Haaie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.