Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Haaie-pantser gereed vir Reds-bielies
Sikhumbuzo Notshe verlede week teen die Rebels op die aanval. Sy afrigter by die Haaie, Sean Everitt, het hom lof toegeswaai vir die indruk wat hy gemaak het sedert hy hom van die Stormers by die Durbanse span aangesluit het.Foto: Getty Images

Sean Everitt, die afrigter van die Haaie se rugbyspan, het kennis geneem van die Reds se krag voorlangs en voel dit is waar sy span die Queenslanders sal moet stuit indien hulle hul oorsese toer op ’n wennoot wil afsluit.

Juis daarom het hy nie gehuiwer om die Springbokke Thomas du Toit en Ox Nche as sy twee stutte aan te kondig vir dié kragmeting nie.

“Thomas se terugkeer verlede week teen die Rebels was van groot waarde vir ons,” sê Everitt. “Hy en Ox wys hoekom hulle Springbokke is en maak ’n groot verskil in hoe ons skrum. Hul teenwoordigheid teen die Reds gaan van groot belang wees,” sê hy.

Hy en Ox wys hoekom hulle Springbokke is en maak ’n groot verskil in hoe ons skrum.
Sean Everitt

Daar is interessante veranderinge voorlangs gemaak, met Henco Venter wat James Venter vervang, en Dylan Richardson wat aan die anderkant van die skrum gaan sak in die plek van Tyler Paul.

Dít is dalk ’n insluiting wat die oë kan laat rek, want Richardson is eintlik een van die drie hakers in die groep. Tog is flank nie vir hom ’n vreemde posisie nie en het hy van sy vroeëre rugby daar gespeel.

Met sy krag en vaart glo Everitt hy kan ’n troefkaart daar wees.

Dit blyk dat die Haaie met die agttal wat gekies is baie beweeglik wil wees en die Reds se groter voorspelers oorhoops wil hardloop.

Lwazi Mvovo, vleuel van die Haaie.

Agterlangs is daar ook die verrassing dat daar geen Makazole Mapimpi is nie en dat sy plek as linkervleuel geneem word deur nóg ’n Springbok, Lwazi Mvovo.

Mvovo was die laaste klompie jare ’n instelling by die Haaie, maar Mapimpi se koms na Durban verlede jaar het hom op die agtergrond laat skuif.

Mapimpi, as een van die huidige Springbokke, kry ingevolge ’n ooreenkoms tussen die franchises en die Suid-Afrikaanse Rugbyunie ’n gedwonge blaaskans.

Die erkende senterpaar van Lukhanyo Am en André Esterhuizen word ook herenig, met Am wat terug is in die plek van Jeremy Ward.

Am, die Bokke se buitesenter, het verlede week sy ruskans gekry.

Louis Schreuder maak sy terugkeer as skrumskakel ten koste van Sanele Nohamba in die ander verandering aan die span wat die Rebels geklop het.

Everitt het die agtsteman, Sikhumbuzo Notshe, uitgesonder as die vernaamste ster in die Rebels-sege.

Hierdie voormalige losvoorspeler van die Stormers is deur Everitt beskryf as ’n uitstaande speler.

Sy skakeling tussen voor- en agterspelers is besonders. Hy is ’n baie vaardige speler en jy kan eintlik nie agterkom of hy ’n voor- of agterspeler is nie.
Sean Everitt

“Sy skakeling tussen voor- en agterspelers is besonders. Hy is ’n baie vaardige speler en jy kan eintlik nie agterkom of hy ’n voor- of agterspeler is nie.

“Hy is nie ’n groot fisieke speler nie, maar hy gebruik sy vaardige voete en vermoë om die bal te dra om vorentoe te speel, sonder om dit met brute krag te doen.

“Hy is ook uitstaande om die bal lewendig te hou en dit aan spelers om hom te besorg. Hy lewer ’n baie goeie bydrae op alle vlakke en is ’n leier in eie reg.

“Om hom hier by die Haaie te kon kry, was ’n geweldige deurbraak vir ons,” sê Everitt van dié woelige agtsteman, wat omtrent gedy by die Durbaniete.

Die Haaie se span is:
Aphalele Fassi, Madosh Tambwe, Lukhanyo Am (k), André Esterhuizen, Lwazi Mvovo, Curwin Bosch, Louis Schreuder, Sikhumbuzo Notshe, Henco Venter, Dylan Richardson, Hyron Andrews, Ruben van Heerden, Thomas du Toit, Kerron van Vuuren, Ox Nche. PLAASVERVANGERS: Craig Burden, Juan Schoeman, John-Hubert Meyer, Le Roux Roets, Pepsi Buthelezi, Sanele Nohamba, Marius Louw, Jeremy Ward.

Haaie t. Rebels-hoogtepunte:


Meer oor:  Makazole Mapimpi  |  Sean Everitt  |  Lwazi Mvovo  |  Kwazulu-Natal  |  Durban  |  Haaie  |  Superrugby  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.