Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Haaie sonder haastige Fassi na Loftus

Die Haaie sal die Bulle Saterdag op Loftus Versfeld sonder hul grootste jong ster moet aandurf.

Die heelagter Aphelele Fassi het harsingskudding opgedoen in die Haaie se nederlaag met 11-16 teen die Stormers Saterdag in Durban.

Aphelele Fassi rek sy bene in die Haaie se Superrugby-kragmeting met die Stormers. Fassie het harsingskudding in dié wedstryd opgedoen en sal nie Saterdag teen die Bulle in aksie wees nie. Foto: Gallo Images

Hy sal nie vir Saterdag se kragmeting oorweeg word nie, het ’n woordvoerder van die Haaie bevestig.

Fassi (21) het die rugbylandskap in Durban verlede jaar in die Curriebeker-reeks soos ’n tornado getref en is as die Haaie se Jongspeler van die Jaar aangewys.

Hy het sy Superrugby-buiging in die Haaie se eerste wedstryd van die jaar teen die Sunwolves in Singapoer gemaak en sedertdien in al drie hul wedstryde op heelagter begin.

Wie sy plek gaan inneem vir Saterdag se kragmeting, is nog onduidelik. Veral nadat Curwin Bosch nie Saterdag, soos daar aanvanklik aangekondig is, op die plaasvervangersbank gesit het nie.

Bosch het ’n ligte stamp teen sy kop gekry tydens die Haaie se oefensessie Donderdag, nadat die span aangekondig is, en Rhyno Smith het hom op die plaasvervangersbank vervang.

Dit is nog onduidelik of Bosch se kopstamp hom ook uit Saterdag se kragmeting sal hou. Indien nie, sal hy waarskynlik op heelagter uitdraf. Indien wel, sal Smith straks kans kry.

Wie ook al die heelagter gaan wees, sal hom moet staal vir ’n skopoorlog teen ’n uiters akkurate Bulle-span.

Die Bulle het die Leeus Saterdag met 30-12 geklop en hul vertoning op taktiese en fisieke oorheersing gebou.

Die Haaie se agttal sal ook strate beter moet wees as wat die geval teen die Stormers was.

“Ons is beslis nie tevrede met ons vertoning as ’n agttal teen die Stormers nie,” sê die loskopstut Juan Schoeman.

Ons fokus is nou op die Bulle en ons weet dit gaan ’n groot fisieke uitdaging teen hulle wees.

“Ons wil dié naweek vir seker beter wees, veral in die vaste fasette en by die afbreekpunte.

“Die Stormers het die oorhand gehad uit ’n fisieke oogpunt, maar dit is nou gedane sake. Ons fokus is nou op die Bulle en ons weet dit gaan ’n groot fisieke uitdaging teen hulle wees.

“Die Bulle het ook verbeter wat hul skopspel betref. Hulle aanvallende spel is beter en hulle het goeie lynspoed op die verdediging.”

Schoeman sê die Bulle is vanjaar ’n baie beter span, veral nadat die Springbok-veterane Schalk Brits en Duane Vermeulen hulle in Pretoria gevestig het.

Die haker Brits was een van sy span se staatmakers teen die Leeus.

“Ouens soos Schalk en Duane het baie ervaring en ’n mens kan baie by hulle leer. Hulle sou die Bulle gehelp het om as ’n agttal te verbeter.”

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Aphelele Fassi  |  Haaie  |  Bulle  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.