Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Haaie sweet, maar klop louwarm Chiefs

Hulle het dit lank laat lyk asof rugby naas algebra die moeilikste ding ter wêreld is, maar die Haaie het uiteindelik Saterdag op Kingspark té veel skietgoed vir ’n saamgeflanste Chiefs-span gehad.

Ná hul sege van 28-24 sien hul wiskunde teen Kiwi-teenstanders vanjaar só daaruit: Vier gespeel, drie gewen, een weggesmyt.

Dan Du Preez hou twee Chiefs-verdedigers besig. Foto: Gallo Images

Dié sommetjie is nie te versmaai vir ’n Suid-Afrikaanse span teen die konings van wêreldrugby nie.

Die Haaie, wat voor Saterdag met die Blues en Highlanders afgereken het en met een punt teen die Hurricanes verloor het, het sake in Durban nie maklik vir hulself gemaak nie.

Soos in hul vorige wedstryde teen Kiwi-spanne, het die Haaie die spel so vinnig en fisiek moontlik probeer maak. Die bal is blitsig van hand verwissel in ’n (grootliks geslaagde) poging om vinnig veld te wen en die teenstanders op die agtervoet te plaas.

Die Haaie het die eerste helfte oorheers, maar kon weer nie gulde geleenthede om punte aan te teken, benut nie. Die Chiefs het bly vasklou en rustyd met die telling op 10-10 ingegaan.

Die frustrasie in die Haaie se afrigtershokkie moes ná rustyd begin oorkook het. ’n Drie deur Lwazi Mvovo is ongedaan gemaak nadat André Esterhuizen ’n bal in die Chiefs-kaptein en -buitesenter, Charlie Ngatai, se hande gegooi het vir ’n onderskepdrie.

Die tuisspan het duidelik oorheers, maar foute het die besoekers se ligte aangehou.

Tog was die Chiefs sonder 20 van hul staatmakers eenvoudig té futloos en leierloos om ’n werklike aanspraakmaker op ’n sege te wees al het die Haaie dit met tye nie so laat lyk het nie.

Ná Ngatai se drie het die Chiefs se gô begin uitloop en die Haaie het meer berekende rugby begin speel en hul kanse begin gebruik.

’n Drie nadat speeltyd verstreke was deur die vleuel Solomon Alaimalo het toegesien dat die telling die besoekers vlei.

Dit was ook duidelik dat verskeie van die Haaie se jong Turke nog rugby-intelligensie moet ontwikkel. Dit was grotendeels die rede vir die magdom onbenutte geleenthede.

Die Du Preez-tweeling, die agtsteman, Dan, en die steelkantflank Jean-Luc, is angswekkende monsters en het Saterdag geskitter, maar hulle maak hulle is ook gereeld skuldig aan gebrekkige dinkwerk op kritieke oomblikke.

Dit het verskeie kere gebeur dat die Haaie aanvallende momentum agter hulle het, maar dan forseer Jean-Luc of Dan ’n drukaangee. Die gevolg is altyd dat die bal verlore gaan.

Hulle pa, die afrigter Robert sr., moet straks ’n plakkaat in hul kamers ophang: Hou die dekselse bal!

Dit is egter nie net dié twee wat aangeë in kontaksituasies soms forseer nie. Esterhuizen, onder andere, maak hom ook daaraan skuldig.

Nog ’n voorbeeld van gebrekkige rugby-intelligensie by ’n jong Haai, was Curwin Bosch se besluit om self vir die hoekie te gaan, terwyl hy Mvovo buite hom gehad het.

Bosch is toe ’n meter voor die doellyn uitgeduik en ’n drie het verlore gegaan.

Dié foute is ook aan oorywerigheid te wyte. Wanneer dit by oorywerigheid kom, is die versagtende omstandighede uiteraard die aanwesigheid van ywer. ’n Span wat probeer om vir skitteroomblikke te sorg, is een wat báie beter daaraan toe is as ’n span wat sy ywer in die kleedkamer agterlaat.

Lukhanyo Am probeer onder druk ’n aangee in kontak na Lwazi Mvovo uitkry. Foto: Gallo Images

’n Haai wat wel sy rugbybrein gewys het, is die skrumskakel, Louis Schreuder. Hy verstaan ruimte en hoe om dit aan te val soos hy gewys het met sy slim skoppie wat tot die vroeër genoemde Bosch-amper-drie gelei het.

Die hele voorry van die Haaie, Beast Mtawarira, Akker van der Merwe en Thomas du Toit, se vertonings was van só ’n aard dat Rassie Erasmus, Bok-breier, in die versoeking kan wees om hulle tot sy Bok-voorry te bevorder.

Hulle het die Chiefs flou geskrum, maar dit was hul werk in die vastelos wat uitgestaan het.

Die vleuel Sbu Nkosi het ook geskitter. Ditto die senter Lukhanyo Am.

Dié sege het die Haaie se kanse om vir die uitspeelstryde te kwalifiseer, ’n groot hupstoot gegee.

Punte:

Haaie 28 (10): Drieë: Robert du Preez, Lwazi Mvovo, Cameron Wright. Doelskoppe: Du Preez (2). Strafdoele: Du Preez (3).

Chiefs 24 (10): Drieë: Tyler Ardon, Charlie Ngatai, Solomon Alaimalo. Doelskoppe: Marty McKenzie (3). Strafdoel: McKenzie.

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Haaie  |  Superrugby  |  Chiefs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.