Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Haaie toonbeeld van transformasie

Wanneer ’n span nie nodig het om te swoeg om sy kwota-teikens te haal nie en dit boonop oortref, moet jy weet sy transformasie-strukture werk.

Dít is die gunstige posisie waarin die Haaie hulself in dié Superrugby-seisoen bevind. Die beginspan wat die Highlanders verlede week met 42-20 in Dunedin geklop het, het agt swart spelers bevat.

Aphelele Fassi is op koers om vanjaar vir Springbok-kleure in aanmerking te kom. Foto: Getty Images

“(Ek) ontvang baie boodskappe op sosiale media oor die diversiteit in ons span. . . wat is die resep? Ons sien kleur, ons vier kleur! Ons vier diversiteit en ons dryf inklusiwiteit!” het Eduard Coetzee, die Haaie se uitvoerende hoof, ná die wedstryd getwiet.

Dit verskil handomkeer van ’n opmerking deur die Protea-krieketkaptein, Faf du Plessis, wat hom die gramskap van baie Suid-Afrikaners op die hals gehaal het. Toe hy voor die tweede toets teen Engeland in Januarie oor Temba Bavuma se weglating gepols is, het hy gesê: “Ons sien nie kleur nie.”

Sy bedoeling was edel, maar die kritiek was dat kleur in die Suid-Afrikaanse konteks raakgesien móét word, sodat sportspanne die demografie van die land kan weerspieël.

Dit is iets wat die Haaie se span doen.

Sean Everitt, die Durbaniete se afrigter, sê hy hoef nie te tel hoeveel swart spelers hy kies nie. Hy kies bloot die beste speler in elke posisie.

“Ons doen dit nie met opset nie, dit is ’n uitvloeisel van ontwikkeling wat reg gedoen word,” sê Everitt.

Die swart spelers wat gekies word, is eenvoudig die beste in hul posisies.
Sean Everitt

Ontwikkeling op voetsoolvlak in KwaZulu-Natal werp dus vrugte af.

“Die span word op verdienste gekies, ek hoef nog nie een keer na getalle te gekyk het nie.

“Die swart spelers wat gekies word, is eenvoudig die beste in hul posisies.”

Twee van dié spelers, die vleuel Makazole Mapimpi en heelagter Aphelele Fassi, het geskitter teen die Highlanders.

“Hulle gee vir die span selfvertroue, hulle is sulke opwindende spelers,” sê Everitt oor sy twee spoedvrate wat elk twee drieë gedruk het.

“Aphelele het balans tot sy spel gevoeg. Hy het aan sy skopvaardighede gewerk en stal dit ook uit. Verlede jaar het hy meestal gehardloop.

“Dit gee vir ons meer opsies en maak hom meer onvoorspelbaar.”

Die 22-jarige Fassi word reeds gesien as iemand wat vanjaar sy Springbok-buiging kan maak. Willie le Roux (30) se loopbaan begin waarskynlik einde se kant toe staan, Damian Willemse word vanjaar uitsluitlik op losskakel gekies by die Stormers en Warrick Gelant het lanklaas die spelpeil getoon wat hom in 2017 ’n Bok gemaak het.

Fassi se spanmaat Mapimpi is reeds ’n gevestigde Bok. Hy speel ook soos een.

“Mapimpi se werkverrigting is uitstaande. Vir een van sy drieë het hy van nêrens af gekom nie en homself in ’n posisie bevind waar hy kon druk,” sê Everitt.

Makazole Mapimpi se werkverrigting is deur sy afrigter geloof. Foto: Getty Images

“Hy ruik bloed en dan jaag hy dit. Ons spelers sien op na hom. Hy het ’n drie in die Wêreldbeker-eindstryd gedruk. Hy is ’n held vir die ouens.”

Daar was wel ’n tikkie slegte nuus vir die Haaie.

Die Bok-vleuel Sbu Nkosi, wat die wedstryd teen die Highlanders misgeloop het, gaan terugkeer na Suid-Afrika nadat hy sy dyspier geskeur het. Marius Louw is in sy plek ontbied vir die laaste drie wedstryde van die toer.

“Ons hoop hy sal gereed wees om te speel wanneer ons terugkom in Durban,” sê Everitt.

Saterdag speel die Haaie teen die Hurricanes in Wellington, daarna teen die Rebels in Melbourne op 22 Februarie en teen die Reds in Brisbane op 29 Februarie.

Op 7 Maart is hulle terug op tuisbodem om die Jaguares te pak.

* Hoogtepunte van Haaie t. Highlanders:

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Durban  |  Sean Everitt  |  Transformasie  |  Superrugby  |  Haaie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.