Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Hansen kritiseer ‘eenogige’ SA blasers
Steve Hansen, afrigter van die All Blacks, meen die Leeus word te min deur Suid-Afrikaanse blasers gestraf in vanjaar se Superrugby-reeks. Foto: Getty Images

Steve Hansen, afrigter van die All Blacks, wil weet waarom Suid-Afrikaanse skeidsregters die Leeus só min op Ellispark straf in vanjaar se Superrugby-reeks.

Die Leeus het in hul laaste drie kragmetings met oorsese teenstanders – met SA blasers aan die spits – die somtotaal van net ses strafskoppe afgestaan, terwyl die besoekers aan Ellispark saam 43 keer gestraf is.

In die proses het die Leeus rillerwedstryde teen die Rebels, Waratahs en Highlanders gewen.

Egon Seconds het ’n somtotaal van net drie strafskoppe teen die Leeus toegeken in hul wedstryde teen die Rebels en Waratahs op Ellispark. Foto: Gallo Images

Teen die Rebels en Waratahs was Egon Seconds die skeidsregter. Hy het 20 strafskoppe vir die Leeus toegeken teenoor een vir die Rebels en 11 teen die Waratahs teenoor twee teen die Leeus. Die Leeus het daardie twee wedstryde onderskeidelik met 36-33 en 29-28 gewen.

Met Rasta Rasivhenge aan die spits in die afgelope naweek se kragmeting tussen die Leeus en Highlanders, was die strafskoptelling 12-3 in die Leeus se guns. Die Suid-Afrikaanse span het met 38-29 gewen.

“Ek ken nie enige span wat in drie wedstryde slegs ses strafskoppe afstaan nie, so ek sou sê hulle (die skeidsregters) is nie konsekwent met die wyse waarop hulle foute weerskante toe straf nie. As iets op die dag ’n strafskop is, moet dit heeldag ’n strafskop wees, nie net vir ’n deel van die dag nie,” het Hansen luidens ’n berig op rugbypass.com aan joernaliste in Auckland gesê.

“Daarmee sê ek nie dat die strafskoppe wat toegeken verkeerd is nie. Ek sê hulle kyk duidelik ’n paar mis.”

Seconds was vroeër vanjaar in die spervuur vir sy hantering van die wedstryd tussen die Stormers en Leeus op Nuweland. Daar was veral kritiek dat hy laat in die wedstryd verkeerdelik ’n strafskop teen die Leeus toegeken het, wat die Stormers in staat gestel het om aanval op aanval te loods voordat Herschel Jantjies uiteindelik die wendrie gedruk het.

Rasta Rasivhenge is deur die Highlanders gekritiseer vir sy vertoning in die afgelope naweek se wedstryd teen die Leeus. Foto: Gallo Images

Aaron Mauger, die Highlanders se afrigter, het Rasivhenge skerp gekritiseer.

“Ek is seker as die skeidsregter sy vertoning hersien, sal daar ’n paar dinge wees waarop hy moet verbeter,” het hy luidens ’n berig op stuff.co.nz gesê.

Mauger meen Sanzaar, die beheerliggaam van die Superreeks, behoort vir Rasivhenge die leviete voor te lees.

“Hulle moet deur daardie proses met die skeidsregters gaan. Nes ons onsself en ons spelers aanspreeklik hou, is ek seker daar sal ’n paar vrae oor daardie vertoning wees.”

Die afgelope naweek het die TV-skeidsregter op Nuweland, Marius Jonker, ’n omstrede beslissing teen die Crusaders in hul wedstryd teen die Stormers gemaak. Dit het gelyk asof Sevu Reece die wendrie vir die Crusaders gedruk het, maar daar is deur Jonker beslis dat Braydon Ennor se aangee na hom in die aanloop vorentoe was.

Argumente vír en téén hierdie beslissing kan gemaak word wanneer ’n video-ontleding van die aangee gedoen word.

Stuff.co.nz het in sy berig ook etlike statistieke opgehaal waarmee Suid-Afrikaanse skeidsregters se objektiwiteit bevraagteken word.

Het die TV-skeidsregter, Marius Jonker, die Stormers ’n guns bewys met sy beslissing van ’n vorentoe aangee teen die Crusaders in Saterdag se gelykopstryd van 19-elk op Nuweland? Foto: Gallo Images

In wedstryde teen die Bulle, Haaie, Leeus en Stormers in Suid-Afrika – met SA skeidsregters aan die spits – is 47 strafskoppe teen die SA spanne toegeken en 96 teen hul oorsese teenstanders. Met oorsese skeidsregters in Suid-Afrika, is die syfer 72-66 in die SA spanne se guns.

Selfs in die Crusaders se wegholsege van 45-13 oor die Bulle op Loftus, was die strafskoptelling 12-4 in die tuisspan se guns. Rasivhenge het daardie wedstryd hanteer. – Sportredaksie

Hoogtepunte van Leeus t. Highlanders:

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Steve Hansen  |  Rasta Rasivhenge  |  Egon Seconds  |  Ellispark  |  Nieu-Seeland  |  Johannesburg  |  Skeidsregters  |  Leeus  |  Rugby  |  Superrugby  |  All Blacks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.