Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
'Herstel Superrugby of vat die pad'

Jake White sê Superrugby is “gebrekkig” en Suid-Afrika moet besluit of hy aan die reeks wil verander of dit verlaat.

Jake White meen Suid-Afrikaanse rugby moet ’n paar taai besluite neem. Foto: Getty Images

Die voormalige Springbok-afrigter skryf in sy rubriek op AllOutRugby.com dat hy beïndruk was met die Crusaders se titelsege, maar meen die gehalte van die reeks sowel as die Kiwi’s se teenstanders in die eindstryd, die Leeus, laat veel te wense.

“Moenie dat ’n goeie eindstryd jou blind maak vir die feit dat die reeks steeds gebrekkig is nie. Hoewel amptenare hoog in hul skik sal wees ná ’n suksesvolle eindstryd, is die realiteit van hul produk baie anders,” sê White.

Sy kommentaar volg kort op die uitlatings van die omstrede Britse rugbyskrywer Stephen Jones wat glo die huidige groep Crusaders is ’n skaduwee van hul kampioenspanne van die verlede en bied geen uitdaging aan Europa se beste klubs nie.

Volgens White moes die eindstryd tussen twee Kiwi-spanne beslis word. Hy glo die Hurricanes en Chiefs was beter as die Leeus, wat bevoordeel is deur die omstrede konferensiestelsel.

“So dapper soos die Leeus was in hul poging om ’n wonderwerk te verrig, was dit Mission: Impossible. Daardie span sou nooit ’n Kiwi-span in Nieu-Seeland klop nie.

“Om eerlik te wees, dit was waarskynlik ’n onregverdige eindstryd want dit is nie deur twee Kiwi-spanne beslis nie. Daar is geen manier dat die beste twee spanne in die reeks vir die trofee gespeel het nie,” sê White.

“Sanzaar sal vanuit ’n bemarkings- en kykersgetalle-oogpunt voel hy het geslaag. Vanuit ’n rugby-oogpunt kan dit egter nie reg wees nie.

Lê rugby in Suid-Afrika se beste pad vorentoe in Europa by reekse soos die Pro14? Foto: Getty Images

“Die Chiefs en die Hurricanes – wat meer wedstryde gewen het en meer ligapunte as die Leeus opgestapel het al het hulle in dieselfde konferensie as die Crusaders en die Highlanders meegeding – moet veronreg voel dat hulle nie ’n regverdige kans om die titel gekry het nie.

“Mense oor die wêreld heen volg sport want hulle wil daar wees op daardie oomblik van ’n groot opskudding. Kenners hou daarvan om oor groot opskuddings en groot terugvegpogings te gesels, maar dit raak verlore in die voorspelbare Superreeks.

“Die reeks is soos ’n trein wat sy skedule volg – die uitslae word bepaal deur tuisveldvoordeel, die konferensie waarin jy speel en die reisfaktor.”

White, wat die Brumbies en die Haaie gebrei het voor sy skuif na die Franse klub Montpellier, rig nou Toyota Verblitz in Japan af.

Hy glo rugby se magsbasis is aan die skuif en sê Suid-Afrika “staan voor ’n paar groot besluite” oor waar hy wil meeding.

“Rugby beweeg noord en Suid-Afrika moet besluit of Superrugby iets is wat ons wil verlaat of iets is wat ons wil verander,” sê hy.

Die Cheetahs en die Southern Kings, wat uit die Superrugby geskop is, ding reeds in die Pro14-reeks mee saam met spanne van Wallis, Skotland, Ierland en Italië.

– Sportredaksie

Meer oor:  Pro14  |  Jake White  |  Leeus  |  Crusaders  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.