Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Highlanders ‘kaap’ Haaie se konferensie

Die Haaie speel nou wel Saterdag teen die Jaguares, maar Robert du Preez, die Haaie-breier, moes Donderdag op sy spanaankondiging bykans net soveel vrae oor die Highlanders as oor dié Argentynse span beantwoord.

Dan du Preez oefen vandeesweek saam met sy Haaie-spanmaats in Durban. Foto: Gallo Images

Die Haaie sal die Superrugby-wedstryd tussen die Highlanders en die Rebels Saterdagoggend in Dunedin met ’n valkoog dophou. Die Highlanders moet die Rebels klop as die Haaie nog ’n kans wil staan om na die kwarteindronde deur te dring.

“Dit hang af van wat gebeur wanneer die Rebels en die Highlanders speel. Hopelik verloor die Rebels en dan is dit alles in ons eie hande,” het Du Preez gesê.

As die Rebels verloor, moet die Haaie steeds die Jaguares klop om onder die voorste agt spanne te eindig.

Die afrigter is gevra of hy geskrik het toe hy sien die Highlanders, wat reeds van ’n plek in die kwarteindronde verseker is, het besluit om ’n paar sleutelspelers ’n ruskans te gee.

“Die Highlanders se span is reeds bekend. Ben Smith en Aaron Smith speel nie, maar die res van hul span is steeds baie goed.”

Volgens hom hoop hulle uiteraard die Rebels verloor, maar al is dít nie die geval nie, is die Haaie se mikpunt steeds om die Jaguares te klop.

“Ons moet Saterdag wen, dis so eenvoudig soos dit. Ons speel rugby om te wen. Ongeag of ons nog tot die kwarteindronde kan vorder of nie, ons wil Saterdag se wedstryd wen.”

As die Haaie wil wen, sal hulle dit sonder hul Springbok-vleuel Sbu Nkosi moet doen.

Hy het ’n enkelbesering opgedoen en sy deelname aan die Rugbykampioenskap is in die gedrang.

“Dit lyk of Sbu vir omtrent agt weke buite aksie gaan wees. Dit is hartverskeurend, maar dit is ongelukkig deel van ons spel.”

Die eerste toets in die Rugbykampioenskap begin reeds oor vyf weke, wanneer die Bokke en Argentinië op 18 Augustus in die einste Durban kragte meet.

Kobus van Wyk begin in sy plek op regtervleuel.

“Kobus het vanjaar goed gespeel wanneer hy die kans gekry het. Hy sien uit daarna om langer speelkans te kry.”

Die goeie nuus vir die Haaie is dat hul Bok-agtsteman, Dan du Preez, se nekbesering nie so ernstig is as wat aanvanklik gevrees is nie. Hy sal Saterdag op sy pos wees.

“Ek het Saterdag nogal groot geskrik, maar al die skanderings toon niks skort nie, so dis goed om hom terug te hê vir Saterdag,” sê Du Preez oor sy seun.

Die Haaie-span is: Curwin Bosch, Kobus van Wyk, Lukhanyo Am, André Esterhuizen, Lwazi Mvovo, Robert du Preez, Louis Schreuder, Daniel du Preez, Jacques Vermeulen, Philip van der Walt, Ruan Botha (k), Tyler Paul, Thomas du Toit, Akker van der Merwe, Tendai Mtawarira. PLAASVERVANGERS: Chiliboy Ralepelle, Juan Schoeman, John-Hubert Meyer, Hyron Andrews, Wian Vosloo, Cameron Wright, Marius Louw, Makazole Mapimpi.

Meer oor:  Highlanders  |  Haaie  |  Robert Du Preez  |  Jaguares
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.