Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Hooper en Cane wil SA uit Superreeks hê

Die gety swel al hoe meer in Nieu-Seeland en Australië op om Suid-Afrikaanse rugby van die tafel te vee wanneer die Superreeks en Rugbykampioenskap later vanjaar hervat word.

Michael Hooper (links) en Sam Cane is al vir baie jare teenstanders in Super- en internasionale rugby, maar is glo verenig in hul mening dat die Superreeks sonder Suid-Afrika en Argentinië moet voortgaan. Foto: Getty Images

Die All Blacks se nuwe kaptein, Sam Cane, het volgens Newshub onder meer reeds met die Wallaby-kaptein, Michael Hooper, oor die toekoms van die Superreeks gesels.

Volgens Channel Nine het Cane en die All Black-skrumskakel Aaron Smith telefonies met Hooper, Lukhan Samakai-Loto en Bryve Hegarty gekoukus.

Daar is glo saamgestem dat die Superreeks sy trefkrag verloor het en dat die huidige formaat nie meer ’n bestaansreg het nie.

Die spelers het glo saamgestem dat die beste pad vorentoe een sonder Suid-Afrika en Argentinië sal wees.

Albei partye het glo ooreengekom om eiebelange opsy te skuif en ’n duidelike toekomspad uit te stippel.

Daar is ook gesels oor die moontlikheid om ’n span van die Suidsee-eilande te betrek wat saam met nege Nieu-Seelandse en Australiese Superspanne (en die Western Force) aan ’n nuwe reeks kan deelneem.

Maar van al die planne kan dadels kom vanweë televisieregte, want Suid-Afrika en Nieu-Seeland het langtermynkontrakte.

Sky TV het juis in November ’n kontrak van N$400 miljoen met die Nieu-Seelandse rugbybase gesluit om alle All Black-wedstryde, die Rugbykampioenskap en die Superreeks tot in 2025 uit te saai.

* Intussen het die oud-All Black-losskakel Andrew Mehrtens Vrydag in ’n televisieonderhoud saam met Michael Cheika en Keith Wood gesê dat die Superreeks in sy huidige formaat “dood” is.

Volgens stuff.co.nz het Mehrtens ’n nuwe reeks voorgestel wat binne die tydsones van Nieu-Seeland en Australië val.

“Nieu-Seeland sal baat by ’n hersiene Superreeks, en Australië ook,” het Mehrtens, wat deesdae in Sydney woon, aan Off The Ball gesê.

“Ek sê nou al lankal, terwyl die kompetisie uitgebrei het, het dit nie op ’n logiese manier uitgebrei nie. Daar is net hier en daar ’n paar spanne bygevoeg.

“Die grootste probleem is dat daar wedstryde in Argentinië gespeel word wat buite die tydsones van Nieu-Seeland en Australië val. Dieselfde geld Suid-Afrika.

“Nie baie mense hou wedstryde wat 03:00 die oggend in Suid-Afrika gespeel word dop nie, selfs as hul eie spanne daarin speel.”

Die voormalige Wallaby Tim Horan het verlede maand reeds in ’n gesprek met Fox Sports gesê die Australasiërs moet eerder kragte saamspan met nasies in Asië en die Stille Oseaan as met Suid-Afrika en Argentinië.

“Superrugby sal oor vyf jaar heeltemal anders lyk,” het hy gesê. “Dit sal waarskynlik ’n Asiese-Pasifiese model wees, met Australië, Nieu-Seeland en Japan wat deel daarvan bly. Dan kyk jy ook na Fidji, Samoa en Tonga.”

* Wat die Rugbykampioenskap aanbetref, het Rob Clarke, die nuwe uitvoerende hoof van Rugby Australië, Sondag in Sydney se Sunday Telegraph gesê hy is vol vertroue dat ’n tuis-en-wegtoetsreeks van drie tot vier toetse tussen die All Blacks en Wallabies dié kompetisie kan vervang.

Volgens hom beplan Sanzaar, die beheerliggaam van rugby in die Suidelike Halfrond, om die Rugbykampioenskap in Oktober en November in Australië aan te bied.

Maar as die Springbokke en Argentynse Poemas vanweë Covid-19-reisbeperkings nie na Australië mag vlieg nie, sal ’n Bledisloe-reeks die antwoord wees. – Sportredaksie

Meer oor:  Michael Hooper  |  Sam Cane  |  Rugby  |  Rugbykampioenskap  |  Superrugby  |  Australië
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.