Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Hou truie nét ligblou – Bulle-ondersteuners
Ruben Kruger op die aanval in 1997 toe sy span nog as Noord-Transvaal meegeding het in die destydse Super12-kompetisie. Foto: Gallo Images

Daar is getroue en stoere Bulle-ondersteuners wat oor hulle span se trui voel soos Henry Ford destyds oor die kleur van sy motors gevoel het: dit kan enige kleur wees, solank dit net swart is.

So reken die hardnekkige Bulle-mense ook: enige kleur solank dit ligblou is.

Dit is gewoonlik dié tyd van die jaar wat menige rugbyliefhebber in Pretoria hoop vir die beste wanneer die nuwe uitrusting, wat die Bulle in die volgende Superreeks gaan dra, bekendgestel word.

Die Blou Bulle Maatskappy (BBM) en Puma het ondersteuners van die span die afgelope paar seisoene al lekker knorrig gehad met die “moderne” truie wat ontwerp is.

Die pienk Bulle van 2013. Jano Vermaak maak die Bulle se oond skoon teen die Stormers op Nuweland. Foto: Gallo Images

Dink terug aan die rugbyoproer in die hoofstad toe daar in 2012 onthul is dat Loftus Versfeld se brekers die volgende seisoen in pienk pakkies in aksie gaan wees.

Vinnig is daar by Loftus wal gegooi: die trui is nie pienk nie, dit is fuchsia rose met ’n goeie skoot Jakaranda-pers.

Daar is nie vir dié verduideliking geval nie en tot vandag toe is 2013 se pienk-wegtrui ’n teer punt vir lojale Bulle.

Wynie Strydom, die span se legendariese oud-spanbestuurder, sê hy het destyds gedink die trui is belaglik.

“Ek is een van die ou garde wat glo ’n Bulle-trui moet darem minstens ’n skakering van blou hê.

Die oud-Bok André Snyman in die oorwegend wit en rooi trui van die Northern Bulls in 1999. Foto: Getty Images

“Ons was onder die indruk dat die broek en kouse vlootblou is en ek sal nooit vergeet hoe bekommerd ek was toe ek en ons bagasiemeester voor die wedstryd teen die Stormers (in 2013) die kleedkamer op Nuweland gaan inrig het.

“Ek het daardie pienk broek en sokkies saam met die trui op ’n hopie gepak en gewonder wat die spelers se reaksie gaan wees.

“Jis jong, dit was darem maar pienk. Gelukkig was Morné Steyn een van die eerste spelers in die kleedkamer en hy het nogal daarvan gehou.

“Ek dink Morras het ’n groot rol gespeel dat die spelers nie in opstand gekom het nie,” skerts Strydom.

Die Bulle het die wedstryd 13-30 verloor en vanselfsprekend het die pienk gewaad die skuld gekry.

Toe volg die kamoefleer-trui van 2014 en al die gepaardgaande grappe.

Daar is onder meer gespot dat die Bulle in die truie speel sodat niemand kan sien hoe swak hulle speel nie.

Kan jy my sien? Victor Matfield in die opspraakwekkende kamoefleertrui waarmee die Bulle in 2014 in die Superreeks in aksie was. Foto: Gallo Images

“Die weermag-groen was die ergste. Nee, dit was darem nie gepas vir ’n Bulle-trui nie,” sê Strydom.

Die Sundowns-wegtrui van verlede seisoen het self ’n paar ondersteuners ontstig.

Dit is egter ’n wanopvatting dat die Bulle eers in die onlangse verlede wegbeweeg het van die span se kenmerkende ligblou-truie.

Die Northern Bulls het in die laat 1990’s deur ’n identiteitskrisis gegaan en het een seisoen selfs in wit en groen uitgedraf.

Krynauw Otto verseker besit vir die Bulle in ’n Super12-wedstryd in 2000. Daar is daardie seisoen op vreemde wit-en-groen truie vir die Pretoriase span besluit. Foto: Gallo Images
Meer oor:  Bul-Ondersteuners  |  Superrugby-Truie  |  Bulle  |  Superrugby  |  Bul-Truie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.